Broer Vaatjie wen preekwedstryd Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 18 February 2022 18:01
Untitled Document

Hulle vertel op Mierkraal was vir jare nie ’n predikant nie. Te wyte aan die grootte van die gemeente en die afstand tot by die eerste ‘groot’ dorp, het geen predikant hom geroepe gevoel om daar te gaan dien nie. Toe was die kerk bra leeg, maar deesdae is daar nie ’n plek vir ’n muis nie.

Die storie loop dat ná vele kerkraadvergaderings en baie onsuksesvolle beroepe, stel die leierdiaken voor hulle stel ’n prediker uit eie geledere aan. Almal wat belangstel, kry kans om te preek. Dan ken die lidmate ’n punt uit tien toe wat in ’n geseëlde koevert in die kluis bewaar word tot almal klaar is. Die een met die hoogste gemiddelde punt word aangestel as waarnemende herder van die gemeente.

Die veearts preek oor die tien plae en is heilig oortuig dat die pes onder die vee niks anders as bloutong was nie. Hy noem dat as die Egiptenare betyds geënt het, sou daar net nege plae gewees het.

Die bankbestuurder verduidelik in sy preek dat, inflasie in ag genome, die weduwee se oortjie in vandag se terme ’n nuwe kerk sou kon bou.

Die kompetisie is straf en hoe langer dit aanhou, hoe vindingryker raak die “leeraars”. Die slagter se biltongpakkies by die deure vind groot byval. Heelwat meer as Oom Hansie van die kafee se lekkergoed. Oom Frans van Kaalplaas skenk ’n slagbees wat ten bate van Huis Herfsblare uitgeloot kan word. So gaan dit aan, Sondag na Sondag.

Die naweek met die wêreldbeker is dit ou Vaatjie van die drankwinkel se beurt. Die kerkraad gee hom toestemming om dié Saterdag ’n grootskerm in die kerksaal op te rig en ’n rugbybraai ten bate van die eiendomskommissie te hou. Vaatjie maak sy somme en bied sy drank teen halfprys aan.

Die Bokke looi die Engelse en die gemeentelede is uit hulle velle. Daar is ’n broederskap wat nog nooit tevore in die gemeente ervaar is nie. Vetes oor basaarkoek en draadheinings word summier uit die weg geruim.

Die gemeente se beker loop oor. Vaatjie moes twee keer sy ‘stoor’ oopsluit. Teen laataand hou die gemeentebedieningskommissie ’n noodvergadering en gee toestemming dat daar in die kerksaal gedans mag word. Die vreugdevure brand tot vroegoggend.

Nege-uur Sondagoggend sluk ’n paar diakens ’n laaste loopdop en vat die pad konsistorie toe sonder om eers ’n draai by die huis te maak. By die deure word springbokkies in nagmaalglasies bedien. Die kerk is gepak. Vaatjie het sy groen das aan. Hy lei self die voorsang en val weg met “Hier kom die Bokke . . .”

Dit is Doopsondag. Die doopouers word vorentoe geroep. Oom Hendrik van der Merwe bring sy eerste en enigste kleinseun in. Toe Vaatjie klein Hendrik Cheslin Mapimpi van der Merwe doop, snik oom Hendrik hardop van trots.

Na die doop preek hy oor hoe ons eie Gideonsbende met die bleekbeen Filistyne afgereken het. Niemand het gedink hulle gaan dit regkry nie. “Hoor, hoor!” beaam oom Smittie.

Die gemeente word uitgenooi om na die diens ’n koppie tee en gister se oorskiet braaivleis in die kerksaal te geniet. Namens die vrouediens ’n opregte woord van dank vir die leë bottels na gisteraand se funksie. Dit gaan hulle herwinningsprojek ’n groot hupstoot gee. Daar sal nie Sondagskool wees nie. Die kinders kan gou help om die leë bottels in die dromme te gooi, terwyl die grootmense tee drink. Die diens word afgesluit met “Pale toe” (albei versies).

Teen dié tyd was daar geen twyfel meer nie. Die gemeente het besluit. Vieruur daai middag word Vaatjie Viviers, op ’n spesiale kerkraadsvergadering as nuwe herder en leke-leeraar verkies . . .

Twee jaar later kom Vaatjie terug van die sinode af. Hy moes ’n aanbieding maak oor hoe hy Mierkraal se boeke in net twee jaar omgekeer het. Die manne is trots.

Daar is egter een ding wat pla en die sinode dring daarop aan dat die gemeente dringend daaraan aandag moet gee. Volgens die sinode, sê Vaatjie, het Mierkraal per capita die tweede hoogste alkoholverbruik in die land.

“Ons sal ernstig met die manne moet praat. Ons kan tog nie ‘settle’ vir tweede plek nie.”

Met dank, erkenning en apologie aan Albie Schoeman.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger