Aardige ‘vark’ is eintlik ‘n lewende fossiel Print E-mail
News - Artikels
Friday, 18 February 2022 17:55
Untitled Document

Een van die aardigste diere wat ’n mens in die Bronberg-gebied kan raakloop word ’n ‘vark’ genoem, al is hy glad nie aan varke verwant nie. Hy hou dwarsdeur sy lewe aan om nuwe tande te groei, verteer sy kos amper soos ’n voël dit doen, sy ore lyk soos dié van ’n donkie, hy het meer beentjies in sy snoet as enige ander soogdier en begrawe boonop sy mis soos ’n kat.

Geneties gesproke is die aardvark, of erdvark, ’n lewende fossiel, aangesien sy chromosome baie van die vroeë euteriese (soorte soogdiere) rangskikking weerspieël voor die afwyking van die groot moderne taxa.

Hy lyk dalk soos ’n vark met sy lang snoet, maar sy naaste oorlewende verwante spesies is die gouemolle, klaasneuse en die tenrek, wat endemies in Madagaskar is. Hy is oorspronklik in dieselfde orde, Edentata, as die miereter, gordeldier en luiaard geplaas, maar vandag word die erdvark gesien as die enigste oorlewende spesie van die soogdierorde Tubulidentata – die buistandiges.


’n Erdvark se taai tong kan tot 30 cm lank wees
Foto: pinimg

’n Volwasse erdvark het geen voortande nie en die tande wat hy wel het, het geen emalje nie en is nie regtig ‘tande’ soos ons dit ken nie. Hulle kwyn en groei dan konstant weer terug en het geen tandwortels nie. Sy kos hoef nie gekou te word nie, omdat hy ’n ‘spiermaag’ (gizzard) het wat kos fynmaal, baie soos dié van ’n voël.

Die erdvarkgate wat hy grou is volop in ons gebied en word deur baie ander diere gebruik, maar die ou wat hulle gegrou het sal jy nie sommer raakloop nie. Hy is ’n sku nagdier wat die hele dag opgekrul in sy skuiling lê en slaap. Sy mis sal jy ook nie maklik kry nie omdat hy gate van tot 10 cm diep grou om dit in te begrawe.


Ma en kleintjie spog albei met imposante kloue
Foto: Burgers' Zoo

’n Erdvarkgat kan tot 10 meter diep wees en hy grou tonnels wat verskeie ‘kamers’ het met meer as een opening. Wanneer hy so teen skemer sy skuiling verlaat, sal hy vir ’n hele ruk stokstil voor die opening staan om seker te maak hy hoor of ruik geen bedreigings nie. Dis omdat dié ou baie beperkte sig het en boonop kleurblind is.

As hy bedreig word kan hy baie vinnig met sy kragtige kloue ’n gat grou – hulle sê selfs vinniger as wat ’n hele klomp mense met grawe kan. Verder beweeg hy redelik stadig, alhoewel hy verstommend genoeg ’n baie goeie swemmer is.

Die erdvark kan op grasvlaktes, bosvelde of in woude voorkom – basies enige plek waar daar genoeg miere en termiete is om te vreet. Dié miere lek hy op met ’n taai tong wat hy tot 30 cm ver uit sy bek kan steek. Hy kan ook ander insekte vreet; daar is al gesien dat erdvarke muise vreet en hulle geniet vrugte van die gemsbokkomkommer.


Bedags lê erdvarke opgekrul en slaap
Foto: Wikipedia

Nog ’n aardigheid aan dié dier is sy snoet, wat tussen nege en elf gespesialiseerde beentjies bevat – meer as enige ander soogdier wat by geboorte ten volle ontwikkeld is. Byvoorbeeld, ’n hond het net vier of vyf sulke beentjies in die neus.

Met soveel neusbeentjies het die erdvark meer plek vir die reukslymvlies, waar die reukbolle voorkom, wat op ingewikkelde wyse “gekoppel” is aan die brein se limbusstelsel. ’n Erdvark se neus het nege sulke reukbolle – meer as enige ander soogdier. So, hulle goeie reuksintuig kom nie net van die hoeveelheid reukbolle nie, maar ook in die ontwikkeling van die brein.


’n Erdvark klim uit die skuiling wat hy gegrou het
Foto: Wikipedia

Boonop is die snoet se punt hoogs beweegbaar en die kante van die neusgate het dik hare, wat die snoet teen grond en stof beskerm wanneer die dier grou. Hulle lang oorskulpe, 150–210 mm, kan ook terugvou om die ore in die grouproses te beskerm. Dié oordadige ore lyk amper soos dié van ’n donkie of haas.

’n Gemiddelde erdvark weeg tussen 60 en 80 kg en is 105–130 cm lank. Sy gespierde stert kan tot 70 cm lank wees. Sy rug is gerond, sy skouers staan 60 cm hoog en sy omtrek is omtrent 100 cm. ’n Erdvark se agterbene is langer as sy voorbene. Die voorbene spesialiseer in grou en spog met ’n imposante paar kloue elk. In warm streke is dié diere bykans haarloos, maar in koeler gebiede is die dik vel met ruwe hare bedek, wat geelbruin, bruin of swart kan wees.


’n Wyfie en haar kleintjie
Foto: Wikipedia

Dié diere is alleenlopers en mannetjies en wyfies het elkeen hulle eie skuiling. Hulle kan meer as een maat hê. Die wyfie is vir sewe maande dragtig, waarna sy een 550 mm lange kleintjie, wat tussen 1,8 en 2 kg weeg, in haar skuiling kry. Die kleintjie verlaat die skuiling na ’n paar weke saam met sy ma en begin termiete vreet as hy agt weke oud is. Teen drie maande word hy gespeen en tussen ses en twaalf maande is hy onafhanklik.

’n Erdvark is volwasse op twee jaar en kan in gevangeskap tot 23 jaar lank leef.

 

© 2024 Die/The Bronberger