Ontbyt ná die vloed by ’n kafee wat die ‘pad’ afgeskud het Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 18 February 2022 17:52
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons het ’n afspraak by ’n pad-protes en dié begin presies om 1 nm – aansit-tyd. Daarom besluit ons om liewers iewers op pad pad-afspraak toe, ’n laat-ontbyt in te werk.

Dis die Saterdag ná die groot reëns en verspoelings in die gebied en ons ry-en-kyk-roete neem ons deur Rayton. Net daar begin die honger-alarm remonstreer dat vroegoggend se koffie-en-beskuit nou darem werklik behoorlik uitgedien is.


Oordadig en amper perfek is die Nolsburger

’n Goeie vriendin het vertel dat die Heyday Roadhouse nuwe eienaars het en vriendin is in ekstase oor dit wat dié nuwe mense voorsit. Lankal se bloutjie of twee met die ‘ou’ eienaars vir eers vergete, swaai ons by die ‘nuwe’ Heyday in.

Baie lanklaas ’n padkafee ervaar, het ek en Metgesel, maar ons sou ook nie vandag nie. Heyday is nou ’n kafee sonder die ‘pad: ’n ‘House’ sonder die ‘road’, kan jy maar sê. Jy kan nie meer in jou voertuig sit en van ’n verskafte venster-skinkbord af eet nie.


Dit lyk half bekend, maar dit smaak aangenaam-anders

Dit is half jammer, want die ooswind wikkel juis vandag kwaai teen die seil-verskansing wat die oop aansit-stoepie met sy paar tafeltjies so effe probeer windstil hou. Nog ’n paar tafeltjies is op die oop, langstoep van die sentrum staangemaak.

Duidelik is die nuwe Heyday veral op kry-en-ry ingestel. Op die netjiese spyskaartjie wat die ewe netjiese en baie vriendelike kelnerin naderbring, se voorblad word dit uitgespel: ‘Take Away Menu’. Ja, sê vriendelike kelnerin, dit is hulle enigste spyskaart. Dikwels het hulle ‘specials’ wat nie op die spyskaart is nie, sê sy.


Die sentrum-stoep is nie bedoel vir oostewind-dae nie

Ons bestel opsluit koffie en die koffie is aangenaam en anders. Onder roosterbroodjies wat hulle ‘toasties’ noem is enkele keuses wat as ontbyt sou kon deug: Die een met spek en eier teen R30 of met spek, eier, kaas en tamatie teen R40. By nadere navraag verneem ek dat die Heyday Dagwood (Nolsburger) al bogenoemde en dan ook baie, baie meer het: Soos ’n burger-frikkadel, en nog allerlei soos gebraaide uie en wat nog op drie snye geroosterde brood.

Soos vermeld is vanoggend se beskuitjie lankal uitgedien en die Nolsburger klink vir my saam met skyfies teen R70 na ’n substansiële ontbyt. Ek bestel.


’n Vet-eet ontbyt uit die gebied se vetkoek-hoofstad

By Heyday kan jy ook verskillende porsies skyfies van verskillende aard apart vir wegneem of stoep-eet teen tussen R15 en R50 aankoop. Die burgers bied ook die keuse van ’n ‘brekkie’ burger met eier, spek, kaas en mayo teen net R35. Verskeie ander Hamburger-verbuigings waaronder dié met varkribbes (spare ribs) teen R70 is verkrygbaar met die ‘Boer Burger Special’ as die ‘luukse’ keuse teen R95. Jy kan oral eerder ’n hoender ‘plattie’ as een van bees kies, sou jy wou.

Nou is dit glo wyd bekend dat Rayton die onbetwiste vetkoek-hoofstad van die gebied is en dit is uit hierdie spyskaart-hoofstuk wat Metgesel besluit om haar eie ontbyt-vetkoek te verbou. Pleks van die spek saam met eier en kaas, vra sy of sy ’n hoender ‘patty’ kan kry en sy kan. Dié vetkoek kos R45.


Nie meer ’n padkafee nie, maar tog ’n lekker snelkos-plek

Toe die gedoente aankom is dit ’n reusagtige en glo baie verruklike vetkoek en volgens Metgesel kan jy dit wat daar binne plat neergesit is nie ’n ‘patty’ noem nie: Dis ’n ‘Pat’, sê sy. Die vetkoek is die hoofstad so waar as vet waardig. Dit laat haar na haar ouma verlang. Sy geniet en neem ook huis toe vir later.

Soos oral gebruiklik deesdae, het ook Heyday op die pizza-wa geklim en die sewe soorte kos tussen R70 en R125. ’n Aantal slaaie, ’n spyskaart vir kleingoed, worse met skyfies, roomys, melkskommels, vis-en-skyfies, schnitzel en (volgens vriendin) die beste varkrib-keuse suid of noord van die omgewing se vetkoek-hoofstad, voltooi min-of-meer Heyday se aanbieding.

Nou, oor die plek se Nolsburger (Dagwood) – net vlugtig en met die nodige verdiende respek: Self sou ek dit kwalik beter kon. En daar is sekere mense wat sou sweer Vreethans is na regte die ware Nols van die Nolsburger.


’n Paar tafeltjies is op die oop stoep gemaak staan

Soos dit wil blyk die geval met die ander snelkos-geregte van die plek te wees, skuil ’n kenner iewers in die kombuis – of agter die iemand agter die braairooster en stoof in die kombuis. Die blote genot van die broodjie (bruin) se perfekte brosheid, belowe reeds die hoogs bevredigende samevoeging van ’n smaaklike en sorgsaam-voorbereide binnewerking van die oordadige Nolsburger.

Ek kan ’n proefskrif oor die ‘plattie’ en die meegaande bestanddele van dié Nolsburger skryf en ek gaan: “Dis ’n ontbyt wat jou in noodtoestande drie dae lank sal kan laat hou, en jou agterna vir drie maande daarna kan laat verlang . . .”

Jy kan die nuwe Heydey se mense om meer inligting bel: 084-453-8621.

 

© 2024 Die/The Bronberger