Pom-poms neem erger oor ná goeie reën Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 18 February 2022 17:50
Untitled Document

Die goeie reënseisoen het die pom-pom onkruid laat handuitruk. Dié onkruid se blomseisoen is tussen Desember en Maart en sy pienk-pers blommetjies kan oral in padreserwes, grasvelde en selfs natuurreservate in die Bronberg-gebied gesien word.

Vriende van Rietvlei-natuurreservaat het op 22 Januarie ’n pom-pom uitroeisessie gehad. Hulle het om 7.30 vm by die werkswinkel-area net ná die ingang tot die reservaat ontmoet. Ná hulle swoeg en sweet is die onkruid in swart sakke toegebind en het hulle ’n bring-en-braai by Jackal’s Den gehou.


Die Vriende het ’n groot stuk grasveld by Rietvlei skoon gekry
Foto:Chilene Verheem

Dié onkruid hou een van die grootste gevare vir ons land in omdat dit ongerepte grasveld inneem. Pom-pom, Campuloclinium macrocephalum, behoort aan die Aster-familie en maak duisende saadjies wat deur hulle klein ‘sambreeltjies’ in die wind versprei word.


Die blomme en hulle sade word in asbliksakke gelaat om te vrot sodat hulle nie verder versprei nie
Foto:Chilene Verheem

Grasveld wat met pom-pom besmet is verloor sy drakrag vir vee en wilde diere en raak totaal waardeloos. Die onkruid bedreig dus almal se voortbestaan, want as die boere nie vleis en melk kan produseer nie, kan ons nie lewe nie, grasvretende wild sterf uit, die hele ekonomiese balans van die land word versteur en sy verskeidenheid aan inheemse plante verdwyn.

Grondeienaars in die groter Bronberggebied doen hulle uiterste om die onkruid uit te roei en hulle word ook wetlik verplig om dit te doen. Om die blomme af te pluk en te vernietig, los egter net ’n deel van die probleem op.


Die foto, wat op 18 Januarie by Rietvlei Natuurreservaat geneem is, wys hoe geil die
pom-poms groei
Foto: Louis Jordaan

Jy moet seker maak dat die saadjies nie versprei word nie. Pluk die blomme en knoppe af en plaas in ’n donker plastieksak. Laat vir ’n paar dae in warm son lê, sodat die blomme kan ontbind en saadvorming stop.

Verbrand die oorblyfsels. Trek die res van die plant met wortels en al uit. As die plant bogronds afbreek is dit so goed soos ’n vitamieninspuiting. Al wat ’n stukkie wortel is sal weer uitgroei. Grawe die wortels uit as die plant afgebreek het en verbrand hulle ná uitdroging.


Vriende van Rietvlei Natuurreservaat takel die pom-poms op 22 Januarie
Foto:Chilene Verheem

Daar is die afgelope jare ’n biologiese beheer vir pom-poms ingestel. In 2014 het die Cullinan Bewarea ’n insek, Liothrips tractabilis, by verskillende plekke in die bewarea vrygelaat met die hulp van ’n biologiese beheer-offisier van die Werk vir Water-program. Dié blaaspootjie larwes en volwassenes vreet die stamme en blare by die apikale loot-punte wat na misvorming lei, wat die plant se hoogte en biomassa, sowel as blomproduksie, verminder. Dié insekte het die grootste impak op saailinge of nuwe groei in die lente.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger