Vermy dié lokvalpad in die nag Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 February 2022 17:46
Untitled Document

Daar is ’n toename in misdaad op die Ou Bronkhorstspruitpad (R104).

So lui die waarskuwing wat die Boschkopse Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) op 26 Januarie uitgestuur het. Die GPF raai mense aan om die pad nie laat in die nag te gebruik nie. As jy ’n pap wiel kry, is dit raadsaam om teen ’n veilige spoed aan te hou ry tot jy by ’n veilige plek uitkom.

Die GPF sê dat indien jy die pad laat in die nag moet gebruik, jy jou reisplanne met familie moet deel en jou foon so moet instel dat hulle jou bewegende ligging konstant kan dophou.


Die rooi merker wys waar klippe op die Ou Bronkhorstspruitpad geplaas is
Bron: Boschkop GPF

Karen Yssel, voorsitter van die Cullinanse GPF, het op 27 Januarie laat weet dat drie voertuie om half een die oggend van 26 Januarie op dié pad deur misdadigers geteiken is. Groot klippe is in albei rigtings oor die pad geplaas en twee voertuie het oor die klippe gery. Een van die voertuie het gerol en is van die pad af.

’n Groep gewapende verdagtes het uit die bosse langs die pad verskyn en op die voertuig wat gerol het, gevuur. Een van die slagoffers in die voertuig is deur ’n koeël getref. Die slagoffers is beroof.
Terwyl nooddienste op die toneel was, het ’n derde voertuig oor die klippe gery. Dié bestuurder kon tot by ’n veilige plek vorder voor die voertuig tot stilstand gebring is.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger