Motoriste moedeloos oor Forfar-pad Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 February 2022 17:45
Untitled Document

Die Forfar-pad is ’n nagmerrie, sê inwoners vanaf Rooikopjes tot Vaalbank, Forfar, Firolaz, Leeuwfontein, Schietpoort, Hartbeesfontein en Witfontein. Dié pad is nie die enigste roete na Rayton nie, maar glo die kortste een wat deur die inwoners van dié landelike gebied gebruik word.

Yolandi Coetzee vertel dat sy al tien jaar in dié gebied woon en dat die pad net al hoe meer agteruit gaan. Sy sê dat swaar gelaaide vragmotors die pad verniel en inwoners wil weet hoekom hulle die pad gebruik.


Die padoppervlakte van naby gesien
Foto: Yolandi Coetzee

Dit is volgens Yolandi vragmotors wat steenkool en sand vervoer, wat dié pad klaarblyklik gebruik om die weegbrugpad te vermy. Sy sê dat die inwoners al om hulp en raad by alle moontlike owerhede aangeklop het, maar dat die probleem nie opgelos word nie.


Inwoners sê swaar vragmotors veroorsaak die skade aan die pad
Foto: Yolandi Coetzee

Inwoners beweer dat ’n onderneming wat die berging en versending van kole koördineer, die pad misbruik. Volgens Maud van Venrooy van die plaaslike gemeenskapspolisieëringsforum het kole-ondernemings glo in 2016 die Forfar-rangeerwerf, wat voorheen in onbruik was, begin gebruik om kole wat by Palesa in Kwamhlanga in Mpumalanga gemyn word, te berg.


Klipbanke word blootgelê op die Forfar-pad
Foto: Yolandi Coetzee

Dié bedrywighede is glo onlangs gestaak, maar word binnekort hervat sodra ’n weegbrug opgerig is.

Volgens Yolandi het die paaie-departement op Bronkhorstspruit laat weet dat hulle die pad nie weer gaan skraap nie. Nog ’n padgebruiker, Ursula Joubert, sê dat die Forfar-pad nie meer geskraap kan word nie, en dat dit opgevul moet word.


Dié pyp net verby die Forfar-stasie ná die draai op pad na Rayton is reeds stukkend gery
Foto: Ursula Joubert

Die pad is glo so gereeld geskraap dat klipbanke blootgelê is en groot klippe en rotse nou gevaar inhou. Afvoerpype staan bo die padoppervlakte uit en word deur vragmotors stukkend gery. Versterkingsmateriaal binne-in die pype veroorsaak dat voertuie se bande daardeur ook stukkend gesteek word. Behalwe vir pap wiele en gesnyde bande, sukkel padgebruikers met stukkende motoronderstelle en skokbrekers wat vervang moet word.


Ursula Joubert wys hoe hoog die pyp bo die Forfar-pad uitstaan
Foto: Ursula Joubert

Ursula het verskeie foto’s geneem van ’n groot asbespyp wat deesdae bokant die padoppervlakte uitstaan en sê, “Dis wat die mense op die pad elke dag moet verduur”.

Ursula het die foto’s net verby die Forfar-stasie ná die draai op pad na Rayton geneem en sê, “Ek wil nie eers weet hoe lyk die pad verder af na Rayton toe nie”.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger