Nuwe soort voëlgriep op Bapsfontein bevestig Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 February 2022 17:44
Untitled Document

’n Geval van voëlgriep, die nuwe H5N1-soort, is in Januarie in Nestpark, Bapsfontein geïdentifiseer en bevestig. Al die diere wat hierdeur geraak is, het óf gevrek of is van kant gemaak.

Volgens statistieke wat in September verlede jaar deur die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging bekend gemaak is, is ’n wye verskeidenheid diere verlede jaar deur voëlgriep geraak, insluitende wilde diere. Meer as drie miljoen voëls is verlede jaar van kant gemaak. Meeste van hulle het uit die eierbedryf gekom.

Volgens dieregesondheidstegnikus, Karien Kruger, is die H5N1-geval in Bapsfontein bevestig deur toetse wat deur die staatsveearts se kantore in Germiston geneem is. Sy sê dat mense nie deur die H5N1-soort voëlgriep geraak word nie.

Boere wat vermoed dat hulle voëls dié griep onder lede het, word gevra om die staatsveearts of ’n dieregesondheidstegnikus te kontak. Simptome sluit in: Opgepofte vere, gebrek aan aptyt, stilheid, ’n skielike daling in eierproduksie, lelle en kamme wat opgeswel is, swelling van die vel onder die oë, hoes, nies, tekens van senuweeagtigheid, diarree en bloeding.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger