Harry se afsterwe bring einde aan ’n era Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 18 February 2022 17:39
Untitled Document

’n Era het tot ’n einde gekom met Harry Malleson van Hazeldean Farm se afsterwe op 8 Februarie. Die familie het laat weet dat Harry daardie oggend vreedsaam heengegaan het.

’n Ryk geskiedenis omvou dié historiese plaas, wat ook as die Malleson-melkplaas bekend gestaan het. Die Mallesons was familie van die Struben-broers, Hendrik Wilhelm (Harry) en Frederick Pine Theophilus (Fred), wat die eerste goud aan die Witwatersrand ontdek het.


Anna en Harry Malleson
Foto’s: Verskaf

Harry Struben het The Willows in 1862 gekoop, geleë langs Hazeldean, die suidelike helfte van die oorspronklike plaas Zwartkoppies 364 JR. Hy het Hazeldean later aangekoop en toe hy in 1915 oorlede is, het sy seun Arthur Hazeldean geërf.

Arthur het die deel waar Silver Lakes en Silver Oaks vandag is, verkoop. In 1944 het Charles Malleson die res van die plaas by sy oom Arthur gekoop. Charles se ouers is in die vroeë 1940’s oorlede en hy het sy derde van die erfplaas, Ida’s Valley in die Stellenbosch-distrik, verkoop en sak en pak Hazeldean toe getrek.

Sy kudde Ayrshire beeste, wat hy reeds in 1920 aangekoop het, is saam met sy plaasimplemente op die trein na Pretoria gelaai. Charles was getroud met Rhoda, ’n nooi Kotzé, en hulle het twee seuns gehad, Harry en Ivan.


Charles Malleson


Rhoda Malleson

Charles het tot in 1972, toe hy ’n beroerte gekry het, op Hazeldean geboer. Daarna het sy twee seuns, Harry, getroud met Anna (’n nooi Benecke) en Ivan, getroud met Suzanne (’n nooi van Der Byl), die plaasbestuur oorgeneem.

Harry en Ivan het op die melk van die Ayrshire-stoet gefokus. In November 1978 het die broers Milkyway Dairy begin en in 1988 het die Milkyway handelsmerk Ayrshire melk aan Woolworths begin verskaf.

In die vroeë 1990’s het die ondernemings beweeg van ’n vennootskap tussen die twee broers na die registrasie van twee maatskappye – Milkyway in 1991, en Hazeldean Farm in 1994.

Die Mallesons het die grootste Ayrshire-stoet in die land opgebou – daar was ’n tyd toe hulle 950 koeie per dag gemelk het – en Milkyway het ’n verwerkingsfabriek op die plaas opgerig.


‘Taken at the flood – the story of Harry Struben’

Harry se seun Frederick se betrokkenheid by die onderneming het in 2000 begin. Harry en sy broer Ivan het tot in 2008 op Hazeldean geboer, toe hulle die Ayrshire-stoet na ’n plaas in die Middelburg-distrik getrek het en aandele in die fabriek verkoop het.

Die plaas Hazeldean val vandag binne die stadsgrens en groot gedeeltes is reeds ontwikkel. Die deel met die historiese ou opstalle, skuur en melkstalle, is uitgehou en staan vandag bekend as die plek waar die Cowhouse-mark aangebied word.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger