Aan mý gemeenskap . . . Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 18 February 2022 17:36
Untitled Document

“To my community.” Aan mý gemeenskap: Só begin Irmela de Beer van dié gebied se bekende Star Trading in Zwavelpoort haar gesin se boodskap aan die gemeenskap in ’n advertensie op bl 16 van dié Bronnie.

Sy wil groet en sy wil dankie sê. Sy doen dit uit die hart uit en sy roer in die proses ’n baie kosbare, uitsonderlike en soms onderskatte snaar aan: “Mý gemeenskap.” Myne.

Knap ’n jaar of twee ná die De Beers 22 jaar gelede hulle destydse beskeie gesinsaak op die been gebring het, is Die Bronberger, op dergelike beskeie baba-bene in die gebied aan’t kruip gesit.

Dit is in hoop en geloof begin om ‘ons’ gemeenskap te dien en as mondstuk en inligtingsbron vir ons eie gemeenskap te dien.

Die De Beers se saak het gegroei, dit het deur moeilike en beter tye beweeg en hulle het ‘hulle’ gemeenskap sien gedy en soms deur slegter tye sien beweeg: Gesien hoe mense mekaar bystaan, help en vertroos. Óns mense. Hulle was ook van die eerste adverteerders in dié nuwe gemeenskappublikasie.

Saam met hulle het baie raakpunte met die Bronnie gebeur. Saam met hulle het ons kinders sien grootwoord, geliefdes uit ons gemeenskap moes groet en die hartseer en vreugdes – oorwinnings en teleurstellings kon deel. Saam is ’n nuwe gemeenskapsband gebore.

Nie lank ná die vestiging van Die Bronberger nie het ons ’n wonderlike brief van die legendariese skrywer en opvoedkundige, Mervyn Woodrow, van Mooiplaats ontvang. Hy was opgewonde oor die daarstelling van ’n eie publikasie vir die gemeenskap. ’n Baie spesiale ‘gemeenskap’ het nou sy eie mondstuk. Sy goeie wense en komplimente sal ons altyd bybly.

Óns gemeenskap: In hierdie uitgawe van die Bronnie kan ons lees hoe Mervyn se twee seuns ingespring het om die nood te verlig en hulp te verleen met die verwoestende vloede van
4 Februarie.

Opvallend ook dat inwoners soos die Van der Bergs en ander lede van die gemeenskaps-veiligheidsgroep van die omgewing, sonder soeke na erkenning, alles in hulle vermoë gedoen het om te help. Om lede van hulle gemeenskap te help: Húlle gemeenskap.

Name is legio en onmoontlik om almal te noem. Maar mense soos Wynand van der Merwe is nie net nog ’n polisieman nie, hy is ’n ‘gemeenskapslid’ en was buite sy ‘pligsure’ geesdriftig bereid om te help.

Ons dink aan jare se opregte gemeenskapsgevoel en omgee van mense soos die Van der Merwes van Bashewa, die Ahlerse van Welbekend, en die vreemde Strange wat lank voor sy raadslidskap ’n deel van en ’n omgee vir sý gemeenskap deur aktiewe deelname gehad het. Dit sonder soeke na blootstelling vir politieke of ander gewin.

Ons salueer vandag dié mense soos Rayton en Cullinan se Johanne en Karen van dié gebied se GPF wat onbaatsugtig probeer om hulle gemeenskappe te beveilig en ingelig te hou.

En Bronkie se ‘waghonde’ wat alles probeer om die geleidelike verval ná die metro se oorname by Kungwini in die kiem te smoor. Die welsyn-engele soos KWO, Wet Nose en andere en vir julle wat julle harte gee, gee, gee vir die gebied – ons is trots daarop om julle óns gemeenskap te noem.

Soos vermeld, is dit onmoontlik om al die ‘helde’ te noem en sou die bewese uitwys van die skurke in die verhaal ook dalk te dik vir ’n daalder, of ’n bundel boeke wees.

Hierdie dan net weer ter bevestiging en dankie te roep oor hoe belangrik en spesiaal ‘óns’ gemeenskap is. Soos iemand jare gelede tereg opgemerk het: “Ons praat wel oor mekaar, maar ons praat ook mét mekaar.’ En ons het ’n mondstuk by name van die Bronnie wat óns gemeenskap graag wil help om dit te doen.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger