Oor die eeue heen het ’n hele klomp vreemdsoortige gebruike, wat die liefde op Valentynsdag,
14 Februarie vier, in verskillende wêrelddele posgevat.
In sommige Europese lande het ’n jonkman ’n kledingstuk aan sy geliefde geskenk. As sy dit aantrek beteken dit sy sal met hom trou. In die Middeleeue was dit die gebruik om name uit ’n hoed te trek. As die naam van die jong man of meisie wat jy trek jou geval, dan dra jy dit letterlik op jou mou vir ’n week.
Die heilige Valentyn doop die heilige Lucialla, deur Jacopo Bassano
’n Bygeloof uit Brittanje lui dat ’n jong meisie wat op Valentynsdag ’n wipstertjie (een van die groep voëls wat in Engels ‘robins’ heet) sien vlieg, met ’n matroos sal trou. As die eerste voëltjie wat sy op dié dag sien ’n mossie is, sal sy met ’n arm man trou en vreeslik gelukkig wees. As haar Valentynsvoëltjie ’n vink is, sal sy met ’n baie ryk man trou. Dit sê nie of sy ook baie gelukkig sal wees nie.
’n Valentynskaartjie uit die Victoriaanse era in die Londense Museum
Fees
Die datum van die hedendaagse Valentynsdag het glo iets te doen met ’n argaïese vrugbaarheidsfees, Luperkalieë, wat jaarliks van 13 tot 15 Februarie in antieke Rome gehou is. Die kuise opposisie-fees, wat ook jaarliks op presies dieselfde datums gehou is, was bekend as ‘Juno Februa’ – wat “Juno die reiniger” of “die sedelike Juno” beteken. Pous Gelasius I (492 – 496 nC) het Luperkalieë afgeskaf. Dit is dié einste pous wat die heilige Valentynsdag in 496 nC ingestel het.
’n Handgeskrewe gedig, ‘Aan Susanna’, gedateer Valentynsdag 1850, Cork Ierland
Die eerste voorstelling van ’n heilige Valentyn het in die ‘Neurenberg Kroniek’ van 1493 verskyn. Die teks vertel dat hy tereggestel is omdat hy Christene gehelp het. Hy is blykbaar met knuppels geslaan en gestenig, maar het die proses oorleef. Hy is daarna by die hek van die ‘Via Flaminia’ onthoof.
Pous Paul VI het die heilige Valentynsdag in 1969 van die Algemene Romeinse Kalender verwyder, omdat daar nie veel oor Valentyn bekend was nie, behalwe dat hy by die ‘Via Flaminia’ begrawe is.
Die heilige Valentyn van Terni en sy dissipels hou toesig oor die konstruksie van sy basilika in Terni. Die afbeelding is uit ’n 14e eeuse Franse manuskrip
Priesters
Eintlik was daar verskeie Christen-martelaars wat die naam Valentyn gedra het. Net twee van hulle is glo deur die heilige Valentynsdag vereer: Valentyn van Rome is die Romeinse priester wat in 269 nC gemartel is en by die ‘Via Flaminia’ begrawe is. Sy godsdiensrelieke is by die Kerk van die Heilige Praxed in Rome en by die Whitefriarstraat Karmeliete Kerk in Dublin, Ierland.
Die fees van Luperkalieë in Rome, waar mense soos honde, bokke, Cupido en personifikasies van vrugbaarheid aangetrek het. Die skets is deur Adam Elsheimer
Valentyn van Terni het in 197 nC die biskop van Interamna (die huidige Terni in Italië) geword en was ’n slagoffer van die marteltog aangevoer deur keiser Aurelianus. Hy is ook by die ‘Via Flaminia’ begrawe, maar op ander ’n plek as Valentyn van Rome. Sy godsdiensrelieke is by die Basilika van die Heilige Valentyn in Terni.
’n Advertensie vir Prang se Valentynskaartjies
in 1883
Foto’s: Wikipedia
|
Valentyn, die priester van Rome, word vereer by die Whitefriarstraat Karmeliete Kerk in Dublin, Ierland
.
|
Rome
Die legende lui dat Valentyn, die priester van Rome, vervolg en persoonlik ondervra is deur die Romeinse keiser, Claudius II. Claudius was beïndruk met Valentyn en het probeer om hom te oortuig om die Romeinse heidendom te aanvaar om sy lewe te red.
Valentyn het geweier en het probeer om Claudius tot Christendom te bekeer. Daarvoor is hy tot dood veroordeel. Voor sy teregstelling het Valentyn glo ’n wonderwerk uitgevoer deur sy tronkbewaarder se blinde dogter te genees.
’n Valentynskaartjie uit 1909
Die bron waarin dié storie verskyn, die vroeë Middeleeuse ‘Legenda Aurea’, verwys glad nie na die gewilde legende oor soldate nie. Volgens dié legende wou keiser Claudius ’n sterker weermag hê en het besluit om trou te verbied. Want, het hy gereken, sonder ’n vrou sal ’n man makliker ’n soldaat word. Valentyn het die verbod op troues verontagsaam en voortgegaan om verliefde paartjie in die eg te verbind.
Dan loop daar nog ’n legende, wat nie elders as by ‘American Greetings by History.com’ bevestig kan word nie, dat Valentyn die nag voor hy tereggestel is ’n ‘Valentynskaartjie’ geskryf het aan ’n jong meisie, wat as sy geliefde geadresseer word. Die kaartjie lui glo, “Van jou Valentyn” en die meisie was glo die tronkbewaarder se dogter, wat hy genees het. |