Muggies bring siektes ná baie reën Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 22 January 2022 06:31
Untitled Document

Die Elandsvlei Bewarea naby Bapsfontein het op 3 Januarie ’n waarskuwing uitgestuur oor die geweldige hoeveelheid muggies, wat weens die aanhoudende reën uitgebroei het. Dié muggies dra siektes oor soos Afrika Perdesiekte, bloutongsiekte en episoötiese hemoragiese siekte virus (EHDV)

EHDV is, net soos die bloutong- en Afrika Perdesiektevirus, ook ’n orbivirus. Bloutongsiekte is ’n nie-aansteeklike, insek-oorgedraagde virus wat voorkom by herkouers, veral skape en minder gereeld by vee en wildsbokke. Dit word veroorsaak deur die Bloutongvirus (BTV), wat deur Culicoides-muggies soos Culicoides imicola en Culicoides variipennis oorgedra word.

Die virus wat perdesiekte veroorsaak is die orbivirus van die rioviridae-familie. Daar bestaan nege stamme of serotipes in die perdesiekte-familie. ’n Perd kry die virus as hy deur ’n besmette wyfie-muggie gebyt word. Dié virus is nie aansteeklik nie, maar oordraagbaar. Een perd kan nie by ’n ander perd aansteek nie, omdat die virus slegs deur insekte oorgedra word.

As ’n perd deur ’n besmette muggie gebyt word, vermeerder die virus vinnig in die bloedstroom en heg aan die rooibloedselle, wat aan die begin ’n verdikking van die bloed veroorsaak.


Die Culicoides muggie
Foto: Verskaf

Die liggaam skei natuurlike stowwe af om die virus teen te werk. Dit veroorsaak die verdunning van die endoteel-weefsel van veral die longe en hart, wat na die vier verskillende vorms van die siekte lei: Perdesiektekoors (die ligste vorm); dikkop (hartvorm); dunkop (longvorm); en gemengde vorm (’n kombinasie van die dikkop en dunkop-vorms). Die inkubasietydperk is vyf tot sewe dae, afhangend van die verskillende vorms.

Perdesiekte moet aangemeld word en telers en private veeartse word onder die Wet op Dieresiektes (Wet no35 van 1984) verplig om staatsveeartse van uitbrake te laat weet. Inenting is jaarliks tussen Junie en Oktober.

Die muggies is laatmiddag en vroeg in die oggende aktief. Daarom word perde-eienaars aangeraai om hulle perde twee ure voor die son sak stalle toe te neem en hulle eers twee ure ná sonsopkoms uit die stalle te laat.

Skakel alle ligte in en om die stalle af en probeer openinge met 80% skadunet bedek. Spuit jou stalle gereeld met insekbeheer-dipstowwe en installeer waaiers in die stalle. Die muggies is kleiner as 1 mm en sukkel om in bewegende lug te vlieg.

Spuit perde met geregistreerde dipmiddels vir perde, soos middels wat piretroïede bevat.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger