Nuwejaar op Beska was baie groot Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Saturday, 22 January 2022 06:30
Untitled Document

Nuwejaar op die platteland was vroeër jare ’n groot geleentheid. Ou Poon onthou boeresports, perdesports en ander sports op plekke soos Opraap in die Wes-Transvaal en Beska in die Bosveld baie goed. Bobaas storieverteller, wyle Hannes Engelbrecht, het dié volgende (ware) storie oor ’n sekere Nuwejaarsdag op Beska vertel. Dit is met dankbare erkenning wat ek Hannes se vertelling deel.

“Ook al 30 jaar dat Beska toe is,” sug Skoep en hy huil amper in sy leë glas.

“Blêddie Sodom en Gomorra gewees” sê die fraaie kroegdame, die mooie Sanja, en sy maak die glase vol, want sy sien ons is vol weemoed.

“Ja,” seg Dawie; “Toe Antoon Aurora verkoop, toe is Beska toe.”

Ons sit soos Job en murmureer en wil ons klere skeur.

Beska was groot. Baie groot. Elke Nuwejaar sak die hele Bosveld, die helfte van Pretoria en al Iscor se êppies daar uit. Dan Pretty Belinda en Obladi Oblada ons twee dae terwyl oom Rooi-Antoon die perde afsit en oom Harry bo in die kraaines sit en die perderenne aankondig: “Boerperd B, vier furlong. Renperde A een myl. Fiel van Staden, daai is g’n Boerperd nie . . .”

En ons jil en koop bier by Kleindaan (nie te verwar met Oomdaan of Daantjie nie). En die klein Petoorse wat later vir die Bulle gespeel het, Piet en Koedoe, loop kaalpoot met kakiebroekies en tel leë koeldrankbotteltjies op.

Vanaand gaan twee, drie manne mekaar m&#r, waarskynlik oor ’n meisie met ’n klokbroek of ’n Mary Quant minirokkie.

Twee dae van Sodom en Gomorra. “Maar tog so lekker,” sê Skoep.

Ons Doppers moes maar ligloop daar anders is die streng kerk op ons. Ons gaan kyk kamtig perdesport, maar hier onderlangs bras ons dat dit bars en verlei die meisies in die dik sand tussen die maroelabome.

Toe, een jaar, was dit mos so reënerig. Almal kom net so lekker in die “mood” en Kleindaan se kroeg kan nie voorbly nie. En wie kom daar aangesit, ewe met dasse en pakke klere? Einste onse Dopperpredikant en drie ouderlinge; ernstig en vermanend op die uitkyk vir afvallige Doppers. Daar iewers anderkant Beska se Kop rammel die weer onheilspellend. Overyssel se kant toe slaan die blitse.

Nou moet jy weet, ons moet almal die “pose” hou want jy kan nie Bacchus wegsteek vir daai Bester-predikant of vir Poliep en die twee ander gepakte ouderlinge nie.

En wragtig! Daar slaan ’n skielike allenige bliksemstraal skielik. Twee perde en hulle oppasser dood!

Net so!

Die predikant en sy drie ouderlinge staan so meewarig (en meerderwaardig) en glimlag toe ons vervaard begin oppak. Met tekens uit die hemel wat spesiaal op versoek van die Doppers plaasvind, speel jy nie.

So met die uitry by die hek gee oom Stefaans Erasmus, hoeka self ’n Dopper, die predikant en ouderlinge so vuil kyk en hy sê: “Bliksottelse ou spoilsports!”

Ag, daai aand toe die reën oorgetrek het, toe is almal weer terug en ons One o’clock, Two o’clock, Rock weer en twee, drie manne takel mekaar met die vuiste toe. Enkele woorde verander. – Red

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger