Bakoortjies mik toenemend na ons gebied Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 22 January 2022 06:21
Untitled Document

Dit lyk asof die bakoorjakkals, of draaijakkals, onlangs sy gebied meer begin uitbrei het na Gauteng. Dié diertjie, wat eintlik glad nie ’n jakkals is nie, se verspreiding val saam met dié van sy stapelvoedsel, grasdraertermiete.

So sê Ruan de Bruin in die navorsing vir sy doktorsgraad oor die bakoorjakkals, wat hom onder meer vir bykans ’n jaar in die veld laat deurbring het, waar hy hulle mis versamel het en hulle optrede bestudeer het.

Terloops, die bakoorjakkals is die enigste een in die Canidae-familie, wat honde, wolwe en jakkalse insluit, wat amper uitsluitlik een insekspesie vreet. Geen ander wilde hond leef op so ’n vreemde, bykans vleislose, insek-belaaide dieet nie.

By gebrek aan sy gunsteling grasdraertermiete, sal dié outjie ook miskruiers, ander insekte, geleedpotiges en soms voëleiers, voëltjies, knaagdiere en wilde vrugte vreet. ’n Bakoorjakkals se gebit lyk egter baie meer na dié van ’n insekvreter as dié van ’n roofdier. Hy het tussen 40 en 48 relatief klein tandjies, wat nie eintlik vleis kan sny nie, maar ideaal is om termiete mee vas te gryp.

Die teenwoordigheid van bakoorjakkalse is eintlik baie goeie nuus vir boere omdat hulle help om grasdraertermiete, wat ’n oes kan vernietig, se getalle onder beheer te bring. Hulle kom meestal in droë streke voor en is grootliks snags aktief, wanneer die termiete aan die beweeg is.


’n Bakoorjakkals met sy oordadige, half komiese ore
Foto: Wikipedia

Naam
Die bakoorjakkals, Otocyon megalotis, is die enigste spesie in die genus Otocyon. Weens sy gebit word dié outjies soms ook as ’n selfstandige subfamilie beskou (Otocyoninae). Daar is drie subspesies, waarvan slegs een in ons land voorkom: Otocyon megalotis megalotis, wat ook in Zambië, Botswana en Namibië voorkom. Die ander twee subspesies is Otocyon megalotis virgatus in Tanzanië en Kenia en Otocyon megalotis canescens in Ethiopië en Somalië.

Die term ‘Otocyon’ is afgelei van die Griekse woord ‘otus’, wat ‘oor’ beteken, en ‘cyon’ vir ‘hond. Sy Afrikaanse naam, bakoorjakkals, kom dus van sy bykans komiese groot ore, wat ongeveer 13 cm lank en goed ontwikkel is om by ’n woestynklimaat aan te pas. Die oppervlak van die ore is goed beaar en bevorder die verwerking van oortollige hitte. Dié groot ore, wat binne-in wit is, word ook gebruik om te jag – bakoorjakkalse word as ‘akoestiese jagters’ beskou, wat letterlik luister na prooi.


Die kleintjies
Foto: sandiegozoo.org

Draai
Dié diertjie word ook ’n draaijakkals genoem na aanleiding van sy ontsnappingstegniek as daar op hom jag gemaak word. Hy sal verskeie kere op sy eie spore omdraai, wat selfs ervare spoorsnyers en snuffelhonde fnuik.

Bakoorjakkalse het ’n grysbruin pels en ’n gemiddelde volwassene weeg 5 kg, met ’n lengte van 80 cm en ’n hoogte van 35 cm. Hulle woon alleen, in pare (met hulle kleintjies) of selfs in klein groepe. Die wyfie is vir drie maande dragtig en drie tot vyf kleintjies word gebore.


’n Jongeling steek sy kop by die skuiling uit
Foto: sandiegozoo.org

Kleintjies
Anders as ander hondespesies, is dit grootliks die mannetjie wat die kleintjies grootmaak, terwyl hulle vir 14 tot 15 weke lank aan die wyfie drink. Hy beskerm hulle, maak hulle skoon en speel met hulle wanneer die wyfie gaan jag.

Dit is dan ook die mannetjie wat die kleintjies voer deur voedsel op te bring en wat hulle vir die eerste keer op ’n termiet-jagtog uitvat, soms as hulle maar slegs vier weke oud is. Ná hulle gespeen is, sal albei ouers saam met hulle gaan jag.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger