Hoekom substasies mense in duister laat Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 22 January 2022 06:18
Untitled Document

Die herbou van die Wapadrandse elektriese substasie sal na verwagting in die eerste kwartaal van die jaar begin en sal ten minste 18 maande neem om te voltooi. Dié substasie het op 10 Julie 2018 aan die brand geslaan.

Groot dele van Pretoria-Oos, insluitende Wapadrand, Equestria, Silver Lakes, Six Fountains, Faerie Glen, Olympus, Boardwalk, Lombardy, Tygerpoort, Zwavelpoort en Donkerhoek, was weer vir ’n week sonder krag ná ’n brand die nag van 17 Julie 2021 by dié substasie uitgebreek het.

Die Rosslyn-substasie het op 16 Augustus verlede jaar aan die brand geslaan. Van die gebiede wat kragloos gelaat is, was Akasia, Amandasig, Theresapark en Florandia.

Op 1 Desember verlede jaar het die Mooikloof-substasie aan die brand geslaan en ’n groot deel van Pretoria-oos was vir bykans twee weke sonder krag. Kragtoevoer is in fases herstel en die Pretoria Oos-hospitaal, Mooikloof Ridge-landgoed, Woodhill-landgoed, The Wilds-landgoed, dele van Pretoriuspark en die oorblywende dele van Moreletapark het eers op 12 Desember weer krag gekry.

Die Mooikloof-substasie het in Mei 2017 ook aan die brand geslaan.

Knap voor Kersfees het die Kloofsig-substasie gebrand en baie huise en sake-ondernemings in Centurion is in die duister gelaat.


Herstelwerk aan die Mooikloof-substasie in Desember 2021
Foto: Verskaf

Brand
Daar is baie moontlike redes gegee hoekom soveel substasies aan die brand geslaan het. Energie-deskundige, Chris Yelland, gee agtergrond oor een daarvan – die feit dat toerusting nie op standaard is nie en nie goed genoeg onderhou word nie.

Transformators en die oorgrote meerderheid van ou stroombrekers gebruik olie binne-in die toerusting as insulasie en verkoelingsmedium en dié olie is vlambaar. Moderne toerusting gebruik nie meer olie nie oor die veiligheidsgevaar.

Olie  kan besmet word deur vog en ander besmettingsmiddels soos stof of grond wat in die olie beland. Wanneer dit gebeur, versleg die olie se isoleervermoë. Die olie moet vervang word en onderhoud moet aan die stroombrekers en transformators gedoen word.

Wapadrand
Vroeg in Januarie het Stad Tshwane woordvoerder, Selby Bokaba, aangekondig dat die kontrakteur vir die Wapadrand-substasie herbouing vir ’n tydperk van drie jaar aangestel is, maar nog na die konstruksie-perseel moet gaan. Voor die kontrakteur kan begin werk, moet Tshwane eers ’n permit van die nasionale regering kry.

Die aanstel van veiligheidsagente moet nog deur die departement van arbeid goedgekeur word en die bestuurskomitee is nog op soek na ’n gemeenskapkoördineerder. Die bestuurskomitee het volgens raadslid vir wyk 85, Jacqui Uys, reeds een keer vergader, maar het nog nie ’n vergadering met die kontrakteur en die munisipale amptenaar gehad nie.

In Junie 2021 het Die Bronberger berig dat die metroraad se hoof van personeel, Jordan Griffiths, bevestig het dat die metro uiteindelik die R77 miljoen versekeringsuitbetaling vir skade in die 2018 brand, ontvang het.

Hoekom het dit so lank ná die versekeringsuitbetaling geneem om die tenderproses vir die herbou van die substasie aan die gang te sit? Phillip Nel, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste by die Tshwane-metroraad, het verduidelik dat regulasies bepaal dat nuwe projekte nie in die verloop van ’n finansiële jaar begin mag word nie.

Jacqui het gesê dat die Wapadrand-tender aan die begin van November verlede jaar uitgereik is. Sy het gesê dat die kleinste deel van die werk op die perseel self is. Die res van die werk behels die gereedkry van al die permitte en die bestel van toerusting.

Dié proses het volgens Jacqui reeds begin. Sy sê dat die toerusting reeds bestel is, maar dat die vervaardiging daarvan tussen agt en 10 maande kan neem.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger