Rayton-tak vat hande met gemeenskap Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 22 January 2022 06:17
Untitled Document

Te midde van die Covid-19 pandemie is ’n nuwe Solidariteit Helpende Hand Rayton-tak op
8 Desember 2020 gestig. Voorsitter van dié tak, Marina Greyvenstein, vertel van die talle opheffingsprojekte wat hulle die afgelope jaar in die gemeenskap gedoen het.

Hulle het deelgeneem aan die HelpHetta-projek, waar 3 000 meisies op nasionale vlak kwartaalliks bygestaan word met sanitêre ware. Die Rayton-tak het 99 pakkies sanitêre ware ingesamel wat binne gemeenskappe versprei is.

In ’n ander projek is hande gevat met die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) op Cullinan en 10 gesinne is geïdentifiseer, wat in die Rayton NG Kerk se kombuis en kerksaal, sopmengsels gekry het en geleer is hoe om die sop te kook.


Takvoorsitter, Marina Greyvenstein, in die middel, saam met Irene en Jan Groenewald

Die Rayton-tak het ’n breimasjien ontvang, wat vir ’n werkskeppingsprojek beskikbaar gestel is. Indien jy oortollige wol het, skenk dit gerus aan die tak en bemagtig so ’n vrou in haar poging om die pot aan die kook te hou.

Die tak se groentetuin-projek gaan hierdie jaar begin vorm aanneem om nog werksgeleenthede te skep.

Om ’n oog te hou oor die projekte, besoek gerus die tak se Facebook-blad: Solidariteit Helpende Hand Rayton-tak. Vir meer inligting oor nasionale projekte, besoek www.helpendehand.co.za of bel Marina by 082-565-3363 om deel te word van die Rayton-tak.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger