Dankie aan mense vol simpatie en meegevoel Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 22 January 2022 06:15
Untitled Document

Wynand van der Merwe van die Boschkopse SAPD

Aan dr Janes van Zwavelpoort, sy mede-veeartse, die ontvangsdames en ook die skoonmakers– Dankie.

Vroeg in Desember word my hondekind siek. Hy is al oud, “Madala” grys op die snoet, maar nog op en wakker. Dr Janes kyk en kry kanker, lelike kanker, maar daar word nie moed opgegee nie en hy kry medisyne voor ’n operasie gedoen kan word.

’n Dag gaan verby en hy word net slegter. Ek en vrou moet ’n besluit maak. Ons kan nie dat hy verder ly nie. Die huis is stil die aand, almal in hulle eie gedagtes. Ek onthou hoe ek nog met sy geboorte die sakkie gebreek het sodat hy sy eerste asem kon kry en aan al die jare se genot wat hy my verskaf het.

Die volgende dag gaan praat ek met dr Janes. Ons het besluit om hom die naweek te hou en te bederf, totsiens te sê. Dr sê dis reg: Voer hom “steak”, voer hom hoender, net waarvan hy hou en sien my dan Maandag. Al wat hy die dag wil eet is biltong en rooiworsies. Die aand gaan hy baie gou agteruit en ek weet, Maandag gaan hy nie haal nie.


Ice

Vroeg die volgende oggend sit ek hom in die kar en ry veearts toe. Trane vlak in my oë. Ek stop en stap in na ontvangs. Dit moes in my oë gewys het. Die ontvangsdames, sonder om baie vrae te vra, sê: Bring hom in.

Een van hulle steek ’n kers aan op ’n klein gedenksteen vir oorlede troeteldiere. Die gebaar is te veel vir my. Ek kan nie meer die trane keer nie. Ek draai om en gaan haal hom vir sy laaste lopie.
Omdat hy seer het, probeer ek hom die “ramp” laat loop. Hy steek vas en gee my ’n kyk! Op met die hoë trappe dan; hy is immers ’n Pitbull.

Ek word na die ondersoekkamer geneem waar ek ’n vroulike dokter en haar span kry. Ek word gevra of ek by wil wees en of ek al ooit by was met so iets. Alles word mooi aan my verduidelik met baie empatie.

Die tyd breek aan en ek hou my hondekind styf vas. Die dokter begin die inspuiting gee en in ’n oogwink voel ek die sterk brawe hart vir altyd stil word onder my hand. Ek huil en praat mooi met hom; sê ek is jammer.

Toe ek opkyk sien ek dat die dokter en haar span stil uitgeglip het om my kans te gee vir my emosies. Ná wat soos ’n ewigheid voel, stap ek uit na die ontvangslokaal. Ek word begroet deur gesigte van meegevoel en simpatie.

Een van die ontvangsdames stap terug na die ondersoekkamer en kom na ’n rukkie uit. Ek word ’n kaartjie gegee van meegevoel en ’n pootafdruk van my hondekind. Die vlammetjie op die gedenksteen brand steeds.

Ná ’n oomblik kom ’n werker / skoonmaker uit die ondersoekkamer met my hondekind in ’n liggaamsak. Hy dra hom versigtig en met deernis na my kar toe en sit hom stadig neer op die agtersitplek. Hy draai om en ek sien trane glinster in sy oë. “Sorry, boss,” sê hy en loop terug.

Ek klim in my kar en vat my hondekind terug huis toe, waar hy gaan rus. ’n Warboel van gedagtes maal deur my kop.

Wat ek hiermee wil sê is: Dankie julle. Dit was my eerste keer dat ek so iets moes doen en die simpatie, empatie, begrip en professionele diens het dit baie makliker gemaak as wat ek my voorgestel het. Ice rus nou sag en sy geskenk aan my lê soos ek hier skryf op my voete en slaap.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger