Nanki troos treurendes met houers vol hoop Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 22 January 2022 06:13
Untitled Document

Nanki Robbertse van Pretoria het besluit om haar heel pynlikste ervaring te gebruik om HopeBox, ’n uitreikprojek, op die been te bring.

Bykans ses jaar gelede het sy haar seuntjie, Kaleb, op 39 weke van swangerskap verloor. Sy vertel dat dit op die Dinsdagaand, 5 April 2016, was toe sy besef het dat sy Kaleb die hele dag nog nie voel beweeg het nie.

Sy het dadelik aangevoel dat iets fout was en dat sy te laat was. By die hospitaal is haar grootste vrees bevestig – daar was geen hartklop nie. Sy moes die volgende dag ’n keisersnit kry en het gekies om wakker te wees vir dié hartseer ervaring. Die dokter het haar vertel dat Kaleb se naelstring ’n stywe knoop in gehad het en dat dit sy dood veroorsaak het.


Nanki Robbertse
Foto’s: Verskaf

Twee maande daarna het Nanki haar pa aan kanker afgestaan. Dit was haar hartewens dat haar pa daar moes wees as Kaleb gebore word en sy troos haar daaraan dat dié twee mekaar in die hemel ontmoet het.

Vandag pak Nanki bokse van hoop vir ouers wat ’n miskraam of doodgebore babatjie gehad het. Sy sê dat dit baie eenvoudig klink, maar mense besef nie dat so ’n vrou nodig het om aan iets vas te hou wanneer sy sonder haar baba uit die hospitaal stap nie.

Sy wil elke treurende ouer graag help met die hulpbronne wat vir haar vertroosting gebring het. Binne-in elkeen van Nanki se bokse kan jy tipies die volgende vind: ’n Gegeurde kers, handgemaakte seep, ’n bad-bederfie, ’n soetdingetjie, lipsalf, tee of koffie, ’n koffiebeker, ’n Bybelkaartjie, ’n joernaal, ’n ‘hemel-pamflet’ deur Randy Alcorn en ’n boek oor die rouproses – ‘Grieving the child I never knew’ deur Kathe Wunnenberg of ‘I’ll hold you in heaven’ deur Jack W Hayford.


Een van Nanki se ‘bokse van hoop’

Nanki het verlede jaar haar eie boek die lig laat sien, ‘Hope after Loss’, waar sy haar eie verhaal vertel, raad gee oor hoe om die rouproses te hanteer en raad oor ’n swangerskap ná jou verlies. Daar is ook ’n bydra van ’n sielkundige oor hoe so ’n verlies ’n mens se huwelik kan beïnvloed.

Nanki moedig treurende ouers aan om ’n gemeenskap te vind waar verstaan word waardeur hulle gegaan het en wat hulle hoop sal gee.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger