Nag van dood Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 22 January 2022 06:11
Untitled Document

Diereliefhebbers van dwarsoor die Bronberg-gebied berig dat Oujaarsaand een van die ergstes ooit was. Ten spyte van munisipale regulasies is vuurwerke wild en wakker afgeskiet.

Wet Nose Diereskuiling op Vaalbank het op 31 Desember gesê, “Vanaand is een van die nagte wat ons as diereliefhebbers vrees”. Die skuiling het gevra dat mense vooraf moet planmaak om hulle diere veilig te hou.

Tog is dit nie net troeteldiere wat op Oujaarsaand die spit afbyt nie. Die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital het berig dat die getal wilde diere wat hulle op 1 Januarie weens vuurwerk-verwante beserings moes uitsit, skrikwekkend was. “’n Dag van die dood, om dit sagkens te stel.”


Die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital het dié foto ter illustrasie gebruik om te wys dat wilde diere ook paniekerig raak en beseer word wanneer vuurwerke afgeskiet word
Foto: Ashleigh Pienaar

Hulle sê dat hulle gewoonlik een tot drie dae ná vuurwerke beserings sien van voëls en selfs vlermuise wat in geboue en vensters vas vlieg en verlore wilde diere wat van die harde ontploffings af probeer weghardloop. Wilde diere toon ongewone optrede in hulle poging om van die geraas af weg te kom en doen ernstige beserings op.

Dié hospitaal verduidelik dat vuurwerke glad nie dieselfde as ’n donderstorm is nie. Diere weet lank voor die tyd dat ’n storm op pad is – hulle kan baie beter hoor as ons en kan ’n verandering in lugdruk aanvoel.

Vuurwerke is egter onverwagte en onnatuurlike harde geluide. Dit veroorsaak vrees en disoriëntasie en wilde diere probeer daarvan wegvlug; soms sonder om ooit weer hulle skuilings te vind. Voëls en kleiner soogdiere verlaat baie kere hulle neste en hulle weerlose kleintjies bly alleen agter.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger