Betsie Steyn van Kleinfontein:
In my matriekjaar (1966) in die Handelskool in Pretoria, het ons Engels by ’n ouerige, maar baie knap, onderwyseres gekry. Sy was mev EH Bührman (gebore 1909). Ek het gehoor haar kollegas noem haar Emily.
Later sou ek die storie van haar naam by haar hoor. Emily se pa was Friedrich Carl Niemeyer en haar ma Sara Jacoba Rebecca Rachel Niemeyer. Sy is Emily Hobhouse gedoop, want haar ma was die geskiedkundige Engelse vrou se boesemvriendin en hulle twee het ’n lang pad in die Anglo-Boere-oorlog in Suid-Afrika geloop. Sy het ter ere van die beroemde vriendin haar dogter na dié vrou vernoem.
Emily was getroud met Willem Hendrik Bührman, seun van die Boereheld, Hendrik Theodoor Bührman. Die plekkie Buhrmansdrift in Noordwes is ook na hom vernoem.
Toe ek ná matriek by Perskor se koerant in Pretoria (‘Hoofstad’) gewerk het, het ek ’n artikel oor haar gedoen en haar by haar woonstel in Sunnyside vir die onderhoud besoek. Ek wou dit spesifiek dáár doen, want ek wou foto’s neem – ek het gehoor van haar besonderse antieke meubels.
Tannie Emily het ál haar naamgenoot se meubels geërf wat sy in Suid-Afrika gehad en gebruik het. Die foto wat ek van haar by ’n kassie geneem het, was baie interessant: dit het ook ’n geheime laaitjie gehad met die Engelse heldin se dokumente en kosbaarhede in.
Ek het die inhoud nooit gesien nie – sy wou dit nie oopmaak nie. Ek het dit weens veiligheids- en sentimentele redes ook nie destyds in my artikel genoem nie – ons was bang dit word dalk gesteel! Maar wat ’n belewenis vir my. Ek wonder wat daarvan geword het?
Ek het ongelukkig nie ’n afskrif van die artikel en foto’s wat op 20 Augustus 1969 in ‘Hoofstad’ verskyn het nie. Ek kan ook nie by die Staatsbiblioteek in die stad uitkom nie, anders kon ek dit gaan opsoek. Dink julle ’n mens sal dit kan opspoor? Het julle dalk ’n kontak wat dit kan gaan soek?
Lesers wat dié artikel kan gaan opsoek, is welkom om Die Bronberger te kontak by
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
of 012-734-0522. – Red |