Enkele maande gelede is Willow, ’n pasgebore donkievulletjie, op merkwaardige wyse deur vier perde op Tierpoort uit die kake van ’n jakkals gered. Vandag is klein Willow, danksy die perdehelde, gesond, sterk en gelukkig op Nadine Minnaar en haar man se hoewe.
Die donkievulletjie word deur haar perderedders beskerm pas ná sy deur ’n jakkals aangeval is
Foto’s: Verskaf
Nadine vertel dat dit die jong donkie-merrie, wat tussen hulle perde op die hoewe woon, se eerste vul was. Jakkals se kind het sy kans gesien om die pasgebore donkietjie as maaltyd buit te maak, en die verskrikte donkie-ma het op loop gesit.
Willow is met die hand grootgemaak
Die jakkals het die vulletjie aan die skof beetgekry en probeer wegsleep, toe vier van Nadine se ryperde op die toneel afgestorm het en die jakkals verjaag het. Een van die perde het aanhoudend vir Nadine-hulle naby die huis gaan ‘roep’ totdat hulle agter die perd aan is om te gaan kyk wat skort.
Willow op die herstel-pad
Daar het hulle die pasgebore donkie-vul bloeiend met bytmerke aan haar skof by die ander drie ‘reddingsperde’ aangetref. Nadine sê die perde het die vulletjie beskerm en was selfs half aggressief teenoor haar toe sy nader beweeg het. Dit was volgens spore en ander tekens duidelik dat sy byna jakkalskos geword het.
’n Gesonde donkievul van twee maande op 24 November
Klein Willow is aangeneem, behandel, versorg en met die hand grootgemaak totdat sy op
24 November ’n gesonde en uitbundige donkievul geword het.
Nadine en haar man, Eugene Minnaar, op hulle troudag in Maart vanjaar
|