Jy kan help om sekretarisvoëls te red Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 11 December 2021 10:34
Untitled Document

Die sekretarisvoël is in 2020 as bedreig verklaar weens drastiese bevolkingsafname oor die laaste drie dekades. Volgens die voëlklub, Birdlife Northern Gauteng, word dié voëls nog in die Bronkhorstspruit-, Bapsfontein-, Cullinan- en Rayton-omgewing gesien en grondeienaars se hulp word nou ingeroep met die opsporing van neste.

Laetitia Steynberg, woordvoerder van dié klub, sê dat die Birdlasser toepassing, wat ’n lewendige nasionale databasis is waar voëlkykers alle voëls aanteken, heelwat aantekenings van sekretarisvoëls in dié gebied toon, maar dat die klub geen kennis dra van neste nie en of die voëls wel in die gebied broei nie.


’n Sekretarisvoël

“Daarom is ons op soek na aktiewe neste. Al die voëls wat aangeteken is, mag dalk van baie ver kom. Sekretarisvoëls wat monitors dra, toon dat hulle honderde kilometers vanaf hulle neste rondvlieg,” sê Laetitia. “Ek hou duim vas dat ’n artikel in Die Bronberger ’n nes met hen en kuiken op ’n vriendelike grondeienaar se eiendom sal uitwys.”

“Ons voëlklub werk saam met die nasionale liggaam, Birdlife SA, wat werk aan ’n projek om grondeienaars bewus te maak van die dilemma waarin dié voëls hulself bevind en verduidelik hoe grondeienaars kan help indien daar sekretarisvoëls op hulle eiendom voorkom of broei,” sê Laetitia.


’n Kuiken word gemeet

Birdlife South Africa is besig met ’n reeks wetenskaplike ondersoeke om te help verseker dat dié endemiese Afrika-roofvoël nie uitsterf nie. Beramings toon dat die getalle van sekretarisvoëls die afgelope paar jaar met 70% gedaal het. In 2015 het die Eskom Rooidata Boek van Voëls beraam dat ’n maksimum van 5 000 volwasse sekretarisvoëls in Suid-Afrika oor is.

Birdlife South Africa soek aktiewe neste waar henne tans broei of kuikens onlangs uitgebroei het. Hulle is besig om GPS-navolgers aan sekretarisvoëlkuikens vas te maak om dié kuikens se bewegings op te teken. Die resultate word gebruik om die bewaringsaksies meer doelgerig en effektief te doen.


Twee kuikens met die GPS-passingsproses

Die GPS-navolgers word aangebring deur ’n ervare en professionele ornitoloog, wat beste praktyk prosedures gebruik. Die kuiken word uit die nes verwyder en ’n metaalring, wat ’n identifikasienommer bevat, word ook aan sy been gesit. Verskeie liggaamsmates word geneem, ’n druppel bloed word geneem om geslag te bepaal en die GPS-navolger word aan die voël se rug vasgemaak met ’n harnas wat spesiaal vir sekretarisvoëls ontwerp is. Dié hele proses neem gewoonlik nie meer as 20 minute nie en die kuiken word dan in die nes terug geplaas.

Die vraag op almal se lippe is of die hen die kuikens dan weer in die nes aanvaar. Dié proses vind plaas aan die einde van die broeiproses, wanneer dit onwaarskynlik is dat ouers die nes sal verlaat. Birdlife South Africa sê dat geen ouers nog ’n nes met kuikens verlaat het as ’n gevolg van dié proses nie.


Christiaan Brink van Birdlife South Africa is bo-op die leer om ’n kuiken in sy nes terug te plaas nadat hy die GPS-navolger aan die voël vasgemaak het

Laetitia verduidelik dat die apparaat klein is en nie maklik sigbaar is nie en dat kuikens ná die harnas aangesit is, altyd weer plat in die nes gaan lê. “Die hen kom gewoonlik vinnig terug om weer by die kuikens aan te sluit. Ervaring het ook geleer dat die passingsproses geen nadelige gevolge op die kuikens of die hen het nie,” sê sy.

Volgens Bird Life South Africa wys die GPS-navolgers dat kuikens binne die eerste paar maande ná hulle die nes verlaat het, tot 600 km vanaf die oorspronklike nes kan beweeg. Baie van dié voëls keer ná ’n paar maande weer terug na die omgewing waar hulle uitgebroei het.


Twee kuikens lê plat nadat hulle in hul nes in die kroon van ’n boom terug gesit is
Foto’s: Birdlife South Africa

Data wat bymekaar gemaak word, het al na belangrike insigte oor ruimte-gebruik, habitat vereistes, sterftesyfer en gevare, optrede en aktiwiteitspatrone gelei. Sekretarisvoëls het groot oop natuurlike gebiede, verkieslik graslande, nodig. Hulle verkies dit om sprinkane te vreet, maar jag ook slange en knaagdiere.

Faktore wat bydra tot ’n afname in dié voëls se bevolkingsgetalle is verlies aan habitat, oormatige brandprogramme wat hulle prooi-getalle onderdruk, oorbeweiding, ontwrigting van broeiende voëls, die feit dat hulle in heinings verstrengel raak en in kragdrade vas vlieg, sekondêre vergifting (plaagdoders) en verdrinking in plase se opgaartenks.

Lesers wat sekretarisvoëlneste op hulle eiendomme het, kan Laetitia Steynberg direk bel: 082-800-6210.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger