’n Bietjie krag vir Kersfees Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Saturday, 11 December 2021 10:30
Untitled Document

Liewe oom Kerveesfader (Kersfeesvader?) en tannie Kersmoeder

My pa sê dis oor kinders nie meer lees nie dat hulle nou ok nie meer kan spel nie. Dis hoekom oom vanjaar vir my ’n leesboek saam met my kwatbaaik kan bring. Asseblief oom – een met prentjies sal reg wees oom. O ja oom, dis weer ek, Daantjie van Donkerhoek hier. Die soet ene.

Wat is blek fraaiday, oom? Ek het my pa gevra en toe sê hy ek moenie vra nie. Jy moenie eers vra nie. So sê my pa. Toe sê my ma ekke moet vir Pa uitlos want hy ly aan kompressie of iets oor die politiek en die verviesing en die ekomonie en peskom, die kouwit en anner goed. Goed wat ek nie eintlik verstaan nie oom.

Die hele verviesing met al die mooipraatjies en hol beloftes maak vir my pa so kwaad dat hy slange kan eet, oom. Rêrig oom, hy sê self so. Dan raak sy gal swart en hy kry kompressie en raak ’n opperse ou knol. Dis wat my ma sê. Ek weet nie wat ’n knol is nie oom en ek hoop nie dis dalk iets wat kinders nie mag sê nie.

Is blek fraaiday amper soos blek laaifs mêtter, oom Kersfader? Want ek weet as die Vroteas so op hulle een knieg gaan sak voor die krieket begin, dan raak my pa een van daai opperse ou knolle. As oom asseblief vir die Vroteas vir Kersfees iets kan bring sodat hulle beter kan speel sal dit goed wees vir almal in hierdie huis. Dan sal my pa nie so ’n groot knol met kompressie wees nie en my ma sê dit sal goed wees vir almal in hierdie huis.

My ma sê as my pa so op ’n Saterdag voor die TV sit en bier geniet en lelik praat met skuinregters in rakbie en die Vroteas en die regering en die wêreld en alles raak hy vreeslik slim en dan los hy net daar al die perbleme op. Sy sê die wysgeer (weet nie wat dit is nie oom) oom Plato het gesê ’n slim man is een wat een ding weet en dit is dat hy niks weet nie. Toe vra ek my ma hoe het oom Plato dit geweet? En toe sê my pa: Sy vrou het hom vertel.  

Vir my ma kan oom asseblief tog net ’n bietjie krag bring. Ek is nou nie seker hoe dit lyk nie, maar as my pa só raak met sy swart gal en knolgeit en slimgeit daarby, dan sê my ma ‘gee my tog net krag’.

My boetie Neelsie wil nie eintlik iets anders hê vir Kersfees as ’n rooi krêsh helmit en kwatbaaik-klere nie asseblief oom. En as oom plek het sommer ’n leesboek vir Neelsie ook vir as hy eendag kan lees.

Oom moet mooi ry en sê groete vir die tannie. Onthou net oom, ons huis het nie ’n skoorsteen nie. Oom kan my persente sommer op die stoep los asseblief.

Totsiens oom. Van soet Daantjie hier op Donkerhoek.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger