Selfoontoring se battery ná jaagtog teruggewin Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 11 December 2021 10:05
Untitled Document

Twee mans is op 24 November in Garsfontein in hegtenis geneem ná hulle met gesteelde selfoontoring-batterye gevang is.

Bull Security het ’n wenk ontvang oor moontlike diefstal by ’n selfoontoring. Toe lede van die sekerheidsfirma daar aankom, het die verdagtes in twee voertuie in die rigting van Menlyn gevlug. Een van die voertuie het onklaar geraak in Issie Smutsstraat in Garsfontein en die verdagte het in die ander voertuig gespring en na Menlyn Retail Park begin jaag.


Gesteelde selfoontoring-batterye
Foto: Bull Security

Toe hulle sien dat hulle agtervolg word, het die verdagtes die voertuig tot stilstand gebring, uitgeklim en begin hardloop. Lede van die sekerheidsfirma is per voet agterna en het die twee in hegtenis geneem. Gesteelde batterye ter waarde van R40 000 is gevind.

Die verdagtes is vir aanhouding aan die Garsfontein-polisiestasie oorhandig. Hulle is aangekla van die besit van gesteelde eiendom en huisbraak-toerusting en het op 26 November in die Pretoriase landdroshof verskyn.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger