‘Skrik van Zwavelpoort’ sit vir 18 jaar Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 11 December 2021 10:04
Untitled Document

Die 50-jarige Derick Tibane is onlangs in die Pretoriase streekshof tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.

Sersant Yeroboam Mbatsane, woordvoerder vir die Boschkop-polisiestasie, sê dat Derick positief uitgeken is deur ’n slagoffer. Hy het vroeër by ’n huis in Zwavelpoort ingebreek waar hy ’n huishulp met ’n mes gesteek het voor hy huishoudelike items ter waarde van R12 000 gesteel het.

In Februarie 2019 het Die Bronberger berig dat ’n man wat Zwavelpoort-inwoners al maande lank terroriseer in hegtenis geneem is. Echo-1 se sekuriteit-reaksie-offisiere het die man, wat van diefstal aangekla is, naby Willows Riding Centre aangekeer. Hy het by die stoorkamer van een van dié sekuriteitsmaatskappy se klante ingebreek en ’n groot hoeveelheid klere gesteel.


Die speurder-span van die Boschkop-polisiestasie, sersante Mashishi, Mashimbye en Matla
Foto: Verskaf

Daar is bevestig dat hy sedert Junie 2018 op Echo-1 se dophou-lys was en kon aan twee ander huisbrake en die gewapende roof in Zwavelpoort verbind word. Hy het glo voorheen in die omgewing gewerk. Ná hy daar weg is, het hy snags terug gegaan om die inwoners te terroriseer.

Die speurder-span van die Boschkop-polisiestasie, sersante Mashishi, Mashimbye en Matla, kon Derick Tibane aan die huisbrake verbind en het uitgevind dat hy in Limpopo aan moord skuldig bevind is en sy paroolvoorwaardes verbreek het.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger