Sinkgat groei in twee jaar na ‘sinksloot’ oor pad Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 11 December 2021 10:03
Untitled Document

Die sinkgat op die Delmaspad (R50) word al hoe groter en ’n motoris het onlangs in dié gat beland en het beserings opgedoen.

In November 2019 het ons berig dat motoriste gewaarsku is om die Delmaspad (R50) tussen Bapsfontein en Pretoria te vermy omdat ’n groot sinkgat ingeval het. Motoriste is gevra om die grondpad D781 te gebruik wat die Delmaspad met die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad (R25) verbind.


Die Raad vir Geowetenskap het dié foto van ’n groot sinkgat in die Bapsfontein-omgewing (ongeveer 59 meter in deursnee) in verslag 2011-0010 gepubliseer

Die pad is toe by die vier-rigting stop net buite Bapsfontein gesluit en ook van Pretoria se kant af by die steenmakery op die kruising met die Elandsfonteinpad. Toegang is alleenlik vir inwoners.

Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer het destyds ’n maatskappy aangestel om gedetailleerde geo-tegniese ondersoeke te doen om die situasie te evalueer. Die departement het aanvanklik spoedverminderingsbordjies en dreunstroke op die pad gesit.

Die gat was vir ’n rukkie tydelik opgevul en die pad is oopgemaak, maar is kort daarna weer gesluit.

Twee jaar later, ná ’n motoris in die sinkgat beland het, het die provinsiale regering gesê dat diensverskaffers nog verwerf word om herstelwerk aan dié provinsiale pad te doen.

Emer-G-Med woordvoerder, Kyle van Reenen, het ná die motoris in die sinkgat beland het gesê dat geen versperrings om die sinkgat was om teen gevaar te waarsku nie. Foto’s wat op die toneel geneem is, wys dat van die versperrings in die sinkgat beland het.


Die sinkgat op die Delmaspad in Oktober 2019
Foto: Noxolo Sibiya

Foto’s wat twee jaar gelede geneem is wys dat die sinkgat slegs aan een kant van die pad was. Onlangse foto’s wys dat die ‘gat’ ’n sloot geword het, wat dwarsoor die pad tot in die aangrensende landerye strek.

Woordvoerder vir die Gautengse departement vir paaie en vervoer, Theo Nkonki, het gesê dat daar versperrings en waarskuwingstekens aan albei kante van die sinkgat is om motoriste te waarsku dat die pad gesluit is.

Volgens verslag 2011-0010 van die Raad vir Geowetenskap, het die Bapsfontein-gebied voor 2003 meestal nie bekend gestaan as ’n gebied waar sinkgate voorkom nie. Die aangetekende drastiese verlaging van die watertafel sedert 2003 het in daardie tyd die formasie van ongeveer 28 sinkgate tot gevolg gehad. F van M Wagener het in 2008 by ’n konferensie in Midrand gesê dat die ontwatering by Bapsfontein grootliks weens landbou in die gebied is.


’n Bestuurder het onlangs in die sinkgat op die Delmaspad (R50) beland
Foto: Emer-G-Med

Die natuurlike proses van sinkgat-vorming word drasties versnel wanneer grondwatervlakke daal. Sinkgate vorm in gebiede wat bo-op dolomiet sit, ’n tipe sedimentêre rots wat geneig is om ’n oplossing te word wanneer dit gekombineer word met water en swak suurgehalte. Dit kan ook veroorsaak word deur dinge so eenvoudig soos reënwater wat uit ’n geut of ’n lekkende waterpyp vloei.

In die sogenaamde Bapsfontein-onluste van 2010 het inwoners van ’n informele nedersetting op 25 hektaar langs die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad en ongeveer 300 meter noord van die Delmaspad slaags geraak met die polisie toe hulle hervestig moes word oor sinkgate naby hulle woonplek.

Van dié sinkgate was groter as 80 meter breed en krake het deur die omgewing geloop. Een van dié sinkgate was naby ’n skool vir 400 kinders en die bodem van die put was amper nie sigbaar nie.

Zweli Dlamini, woordvoerder vir die Ekurhuleni-munisipaliteit, het toe berig dat die gebied as onveilig verklaar is. Die munisipaliteit het ongeveer 150 gesinne verwyder, maar nuwe plakkers het daar ingetrek en betoog toe hulle ook verwyder moes word.


Die sinkgat strek na twee jaar oor die hele provinsiale pad en het in die aangrensende
landery begin inbeweeg
Foto: Emer-G-Med

Zweli het gesê dat die sinkgate in 2003/4 begin oopgaan het en dat die grootste een, wat die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad beïnvloed het, in Januarie 2004 ontwikkel het uit ’n vlak dreineringsholte. Die sinkgat was aanvanklik 30 meter in deursnee en 20 meter diep. In 2005 was die gat reeds dubbel die grootte.

Die munisipaliteit het die sinkgat afgekamp met lemmetjiesdraad en ’n muur is om dit gebou en geotegniese konsultante is aangestel om die metro advies te gee oor die oorsaak van die sinkgat en ’n oplossing vir die probleem. Verdere ondersoeke en studies van R1,8 miljoen was glo nodig.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger