Meeste bly dié vakansie en Kersfees by die huis Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 11 December 2021 09:57
Untitled Document

Ons het ’n aantal gereelde Bronnie-lesers gevra of hulle weggaan dié somervakansie: Indien wel, waarheen en as hulle tuis bly of daar ’n bepaalde rede daarvoor is? Ons wou ook weet waarheen hulle dié somer graag sou wou gaan as hulle kon en wat vir Kersdag beplan word. Dit blyk uit die opname dat die meeste Bronbergers dié vakansie met tuisbly se karretjie ry.

Marja Brunninger van Cullinan sê die afgelope paar jaar bly sy liefs tuis in die nabyheid van haar gesin. “Dis altyd vir my lekker om die Kersgety saam met hulle te vier.” Behalwe hiervoor, sê Marja, het sy ook ‘groot planne’ vir ’n vakansie in die komende jaar.

Op die vraag oor waarheen sy graag sou wou gaan, indien sy ’n keuse gehad het, sê Marja:

“Ons gesinnetjie het heelwat gekrimp gedurende die afgelope jaar met dié dat my broer en sy vrou Ierland toe verhuis het. Sy kinders is nou ook wyd en syd versprei en my dogter, haar man en my kleindogter het Nederland toe verhuis.”


Marja Brunninger en haar twee kleindogters. Sy verlang vreeslik na die donkerkoppie wat nou in Nederland woon

Daarmee in gedagte spaar sy hard vir ’n kuiertjie in die buiteland en miskien ook ’n paar dae se vakansie in Kroasië of een of ander dorpie aan die Mediterreense kus, sê Marja.

Hierdie jaar het haar seun aangebied dat Kersfees by hulle tuiste gehou sal word. Marja sal graag Kersaand ’n kerkdiens saam met haar moeder wil bywoon.

“Kersdag word tradisioneel gevier. Mooi geskenke vir die kinders (dié jaar net my een kleindogter van drie jaar oud) en dit word gevolg deur die volwassenes wat ’n koevert aan ’n voorafbepaalde liefdadigheidsorganisasie skenk.

“Dit vind plaas onder ’n pragtig versierde Kersboom terwyl die reuk van vars geperkoleerde koffie die huis deurtrek. Dit word bedien met heerlike tradisionele Nederlandse gebak en ’n Kerskrans wat met marsepein gevul is. En daarna ’n feestelike Kersmaaltyd wat ’n mens laat glo dat jy niks meer sal of selfs wil eet vir die res van die jaar nie,” sê Marja.

Myda Cronjé van Mooiplaats (mooi Bronberg-gebied, sê sy) gaan in dié Kerstyd na haar seun in Wellington.

Die bepaalde bestemming, Wellington, is baie sentraal geleë vanaf die lughawe, Weskus en ander mooi dorpe soos Worcester, Tulbagh, Melkbosstrand en Bloubergstrand en hulle gaan “so ’n bietjie die wêreld bekyk” terwyl hulle saam met die kinders en kleinkinders ontspan. 

Hulle beplan ook onder meer ’n rit met die kabelkar tot op Tafelberg se kruin en besoeke aan die V&A Waterfront en die akwarium.


Myda Cronjé

“Op Kersdag gaan ons tuis bly by my seun se huis op Diemersfontein Wynlandgoed by Wellington. Ons gaan ’n heerlike tuisgemaakte ete (met liefde voorberei) bedien saam met heerlike slaaie en natuurlik ’n heerlike koue nagereg geniet.”

“Ons hou nie daarvan om Kersdag by funksie-plekke te wees wat oordadig, duur en gekommersialiseer is nie. Dis vir ons eerstens ’n Christus dag,” sê Myda.

Charles Thompson van Boekenhoutskloof sê hulle “ry met Jan Tuisbly se bus”. Die ekonomie is van so aard dat hy oortuig is daarvan dat baie ander dié besluit gaan volg. “Kersfees by die huis saam met die baas, junior en die oudste is Charles se voorland. Miskien ook sy suster en swaer – dit is al familie wat hy het.


Charles Thompson

“Daar loop ’n gemeste lam in die kraal . . . en rys, aartappels, pampoen en boontjies. Regte, regte lekker familiekos. Met ‘trifle’ soos ouma dit gemaak het, en room van die pienk koei,” sê Charles.

“Die boerderytjie is natuurlik ook maar daar, en Kersdag moet alles steeds voer en water kry. So week, straks 10 dae in die wildtuin sou beslis ’n plooi of twee weggevat het!”

Gerhard en Liezel Yssel van Rayton sê hulle gaan nie weg nie. Hulle verkies dit om in die winter te gaan vakansie hou en oor die somervakansie gebruik hulle Jan Tuisbly se karretjie om hulle “eie tuinroete” te verken.

Een rede vir dié besluit is dat ander bestemmings dié tyd van die jaar te besig is en ’n ander ‘hoofrede’ is dat hulle diere baie bang is vir klappers, wat ongelukkig met die feesseisoen in hulle omgewing afgeskiet word.


Gerhard en Liezel Yssel

“Gelukkig bly al ons kinders en kleinkinders naby en Kersdag sal daarom ’n heerlike familiebyeenkoms wees. Ons sal lekker braai en net ontspan. Een ding wat ons vir mekaar sal kan sê, is dat die jaar omgevlieg het met hoogte- en laagtepunte. Gelukkig met meer hoogtepunte as laagtepunte en dat daar altyd so baie is om voor dankbaar te wees,” sê die Yssels.

Marinda Smal woon op Cullinan en werk in Rayton. Sy sê sy bedryf ’n kuns- en handvaardigheid-winkel en gaan soveel moontlik oopmaak vir die gemeenskap. Daarom sal sy nie dié keer met vakansie weggaan nie.


Marinda Smal

Hulle beplan om op Kersdag te braai. Marinda sê sy sou bitter graag see toe wou gaan.

Bert Cilliers sê hulle gaan glad nie weg dié somervakansie nie. Hy is ’n eiendomsagent en die werk gaan hom oor die feesseisoen besig hou.


Bert Cilliers

As dit moontlik was sou hy ook graag see toe wou gaan. Op Kersdag beplan hulle om net as gesin saam te kuier.

Johan Pretorius van die Stillbosch Wildreservaat by Klipkop gaan nie weg nie. Gaste en besprekings gaan hom as natuurbewaarder en veldgids in Desember te besig hou.


Johan Pretorius

Volgens Johan sou ’n mens dié tyd van die jaar graag ’n bietjie wou wegbreek see toe. Hy sou mik vir iewers in Mosambiek of die Noordkus by ’n plek soos Sodwanabaai met heerlike kampeergeriewe.

Kersete word saam met die familie beplan saam met ‘lekker kuier’ langs die swembad in die reservaat.

Louise Marè Pretorius van Mooiplaats sê Desember was nog nooit vir hulle ’n vakansiemaand nie. Indien hulle dalk sou gaan, sou hulle vir seker iewers in die bos gaan kuier het.

“Daar waar jy die nabyheid van jou Skepper kan ervaar in die natuur rondom jou en rus en stilte vir jou siel kan kry,” sê Louise.


Louise Marè Pretorius

Die Kruger-wildtuin is hulle gewildste bestemming waar “jy verkwik en versterk kan word in jou gemoed’.

“Ons bring graag Kersdag deur saam met ons kinders en kleinkinders en begin die dag deur eers ’n Kersdiens by te woon. Daarna kuier ons net lekker saam as gesin.”

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger