Dogter van optelhond Print E-mail
News - Briewe
Saturday, 11 December 2021 09:46
Untitled Document

Buks Barnard van Elandshoek skryf:
’n Optelhond is dikwels die beste hond. My liewe bure, Ronald en Marelize, het omtrent ’n jaar gelede ’n verwaarloosde, verdwaalde, uitgehongerde, vlooi- en bosluisbesmette, dragtige teef opgetel, haar huis toe gebring en versorg.

Haar naam is Sigeuner. (Hulle sê ‘Gypsy’, maar ek glo nie dit is mooi om ’n dier wat al soveel ellende deurgemaak het nog met ’n Ingelse naam ook op te saal nie.)

Sigeuner is vandag ’n slim, wakker, tevrede hond propvol persoonlikheid. Sigeuner het kleintjies gekry en my ander bure, liewe Koos en Charlotte, het een van haar kinders, Lilla, aangeneem.


Lilla, die swart buurhond, saam met Simson, die rifrug

Lilla is van die begin af een van die vriendelikste, liefdevolste, slimste, oulikste, prettigste honde wat ek nog ooit teengekom het en sy en Simson (my rifrug) is boesemvriende.

Vandag word die honde se Bravecto hier by my afgelewer. Ek stuur vir liewe buurman Koos ’n boodskap dat dit hier is. Hy antwoord dat hy Lilla sal stuur vir hare. Ek dink hy bedoel hy sal Lilla bring, maar ’n rukkie later kom Lilla ewe luiters vingeralleen hier ingestap, kry en eet haar pil en ’n hondekoekie en gaan weer huis toe.

Die dogter van ’n optelhond . . .

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger