Angie Kleijn
’n Afgekampte klompie grafte in die Rietvlei-natuurreservaat is nie iets waarby baie wildkykers stilhou nie. Min weet hulle dat hulle verby die oorskot van pioniers ry; van Pretoria-distrik se eerste inwoners en die weduwee van die 1892 trekleier na Gazaland. Dié weduwee se dogter en haar man se grafte lê nie daar nie – hulle moes glo ná die oorlog as ‘joiners’ die gebied verlaat.
Die eerste Voortrekkers het in Desember 1836 saam met die Andries Hendrik Potgieter-trek in die Rietvlei-gebied aangekom. Die Voortrekker-familie Erasmus het net daar agtergebly. Daniël Elardus Erasmus, oftewel Daantjie Doornkloof, het die plaas Doornkloof, ongeveer 5 140 hektaar, in 1841 daar uitgemeet. Hy was die oudste seun van Daniël Jacobus ‘Oupa Swartkoppies’ Erasmus, wat die plaas Zwartkop uitgemeet het, en sy vrou Cornelia Jacoba Susanna, ’n nooi Kruger.
Die begraafplasie in die Rietvlei-natuurreservaat
Foto: graves-at-eggsa.org
Ideaal
Sekere bronne noem dat Oupa Swartkoppies besluit het om daar te woon omdat sy seun, Daantjie Doornkloof, nog voor die Groot Trek in 1831 daar was om olifante te jag. Hy het vertel van dié gebied wat volop wild en water het en waar daar nie malaria is nie.
Toe Daantjie Doornkloof in 1875 oorlede is, het sy drie seuns, Daniël Jacobus, Stephanus Petrus en Michiel Christiaan Elardus die plaas Doornkloof geërf. Michiel en Stephanus het ook die helfte van die plaas, wat toe as Reitvlej bekend gestaan het, geërf. Michiel, wat die suidelike deel van Rietvlej geërf het, is op 12 September 1849 op die plaas Doornkloof gebore en het in 1869 met Anna Susanna Opperman getroud. Hulle het agt kinders op Rietvlej grootgemaak.
Michiel Christiaan Elardus Erasmus was getroud met Anna Susanna Opperman
Bron: geni.com
Hulle oudste seun was Daniël Elardus Erasmus, gebore op 14 Augustus 1870, wat met Thomas ‘Groot Tom’ Moodie se dogter, Johanna Maria, gebore op 9 April 1871, getroud is. Dit is dié twee wat ná die Engelse Oorlog die gebied verlaat het.
Hulle het ontmoet toe die Moodie-trek vanaf die Vrystaat na die destydse Gazaland (deel van die hedendaagse Zimbabwe) op die Erasmusse se plaas oorgestaan het. Die Moodie-trekkers het op
5 Mei 1892 op Bethlehem bymekaargekom. Daar was 37 mans en 31 vroue met 17 waens, ’n aantal werkers asook trekosse en 350 stuks grootvee.
Cecilia Moodie en haar seun, George Christian Stephen Moodie
Bron: Anna Elizabeth Bekker
Moodie
Deelnemers aan die trek is plase belowe. Die Britse imperialis, Cecil John Rhodes, het vir George Benjamin Dunbar Moodie gevra om ’n gebied in Gazaland te beset. George was ’n raadgewer van Rhodes se Britse Suid-Afrikaanse Maatskappy (BSAM), wat die gebied in 1890 beset het. Hy was ook ’n voormalige bestuurder van die Portugese Ophir-mynmaatskappy, wat in Manikaland gemyn het.
Ná onderhandelings met Rhodes en Jameson is ’n besitneming-ooreenkoms onderteken en plase van 3 000 morg in Gazaland, die suid-oostelike grensgebied van Rhodesië, is aan elke boer gegee met die voorwaarde dat die plase dadelik beset moes word.
Michiel Christiaan Elardus Erasmus se graf in die
Rietvlei-natuurreservaat
Foto: graves-at-eggsa.org
|
Veldkornet Malcolm Moodie
Bron: geni.com
.
|
Daar was ’n jaarlikse vooruitbetaalbare erfpag van £3 per 1 500 morg, en 4s. vir elke verdere 100 morg, of deel daarvan. Die BSAM het die reg op alle edelgesteentes, minerale en minerale-olie behou.
George se oom, Thomas Moodie, is as trekleier verkies. Hy is op 29 November 1839 as tweede seun van die “laird” Thomas Binjamin Moodie van Melsetter, Skotland gebore. Groot Tom het ’n Afrikaanssprekende graanboer in die Vrystaat geword en is op 24 Augustus 1863 op Smithfield met ’n Boeremeisie getroud. Sy was Cecilia Jacomina Robbertse, gebore op 20 Junie 1842 in Somerset Oos.
Groot Tom Moodie
Bron: Anna Elizabeth Bekker
|
George Benjamin Dunbar Moodie
Bron: geni.com
|
Groot Tom en Cecilia het 12 kinders gehad. Hulle oudste seun, Jan Hendrik Robbertse Moodie, en sy gesin het besluit om nie saam te trek Rhodesië toe nie. Hulle tweede oudste dogter, Johanna Maria, het op Rietvlej agtergebly om met Daniël Elardus Erasmus te trou.
Die tien Moodie-kinders wat saamgegaan het, was: Sarah Maria; James Benjamin; Thomas Dreyer; Elsie Elizabeth; Donald Charles Petrus; Malcolm Mauritz; Harriet Magdalena; Benjamin; George Christian Stephen; en William Duncan Strickland.
Ter nagedagtenis aan die pionier, Thomas Moodie
Bron: Geoffrey Otterson
Trek
Groot Tom se trek is gekenmerk deur allerhande fiasko’s soos die uitbreek van bek-en-klouseer onder die vee, aanvalle deur leeus, ’n gebrek aan water, perdesiekte en naderhand die malaria wat baie lewens geëis het.
Die trekkers se eerste stilhouplek in Rhodesië was Fort Tuli, waar hulle deur kaptein Raaff onthaal is. Vandaar is hulle na Fort Victoria. Die trekkers was ontevrede oor die beoogde gebied van vestiging en Groot Tom se haas om Gazaland voor die reënseisoen te bereik, het verdeeldheid veroorsaak.
Cecilia Moodie se graf in die Rietvlei-natuurreservaat
Foto: graves-at-eggsa.org
Groot Tom en sy voorste groep wou ooswaarts trek, maar die res wou hulle eerder op die middellande tussen Fort Victoria en Salisbury, in die gebied van die Van der Byl-trekkers, vestig.
Ná meer as agt maande het Groot Tom en enkele oorlewendes by die grasvelde van Chipinga aangekom. In dié heuwelgebiede het hulle drie watervalle gesien en Tom het die gebied op
3 Januarie 1892 Waterval gedoop. Hulle het ’n dorpie gestig wat na Groot Tom se voorvaderlike landgoed in Skotland, Melsetter, vernoem is.
Groot Tom is nie lank daarna nie, op 30 April 1894, aan swartwaterkoors oorlede. ’n Gedenkteken ter ere van die Gazaland-trekkers en Thomas Moodie is later op sy plaas opgerig.
Generaal Daniël Jacobus Elardus ‘Maroela’ Erasmus
Bron: geni.com
Terug
Toe Groot Tom en Cecilia se agtste en jongste seun, William Duncan Strickland Moodie, in 1895 daar oorlede is, het Cecilia besluit om terug te keer na die Transvaal. Cecilia en Thomas Dreyer Moodie, hulle derde seun, wat op 5 Mei 1874 gebore is, was in 1896 terug op Rietvlej, by haar dogter Johanna Maria en skoonseun, Daniël Elardus Erasmus. Daar het twee kleinkinders op haar gewag: Cecelia Moodie Erasmus, gebore op 12 Mei 1894, en Michiel Christiaan Elardus Erasmus, gebore op 2 Mei 1896.
Johanna se broer, Thomas Dreyer Moodie, is toe met haar man Daniël se suster, Susanna (sommige bronne noem haar Susara) Margaretha Erasmus, getroud. Hulle het op Rietfontein, wes van Rietvlej gewoon en die rif op die plaas, Moodie-rif, is na hulle vernoem.
Cecilia en Groot Tom se oudste dogter, Sarah Maria Moodie
Bron: geni.com
Daniël en Susanna se pa, Michiel, is intussen as ’n skatryk man op 8 Junie 1895 in die ouderdom van 46 jaar oorlede en is op Reitvlej in die familie kerkhof by die ou opstal naby Maraisdam begrawe. Hy het nege plase en een erf in Pretoria besit ten tye van sy dood.
Johanna se man Daniël het die helfte van Rietvlej geërf asook die derde van Doornkloof, wat sy pa besit het. Michiel se weduwee, Anna Susanna, het daarna met Marcus Albertus Smit getrou en Springs toe getrek waar sy in 1938 oorlede is.
’n Gedenksteen wat deur die Melsetter-setlaars vir Thomas Moodie opgerig is
Bron: Geoffrey Otterson
Begrawe
Cecilia is op 10 November 1905 in die ouderdom van 63 jaar oorlede en is saam met Michiel in die familiekerkhof op Rietvlej begrawe. Voor haar dood kon sy darem twee van haar kinders wat in Rhodesië agtergebly het, weer sien.
Harriet Magdalena Moodie, die vierde dogter, het met Walter Mears getrou en het terug gekeer na Suid-Afrika. Haar suster, Sarah Maria Moodie, die oudste dogter, het in 1902 by haar aangesluit. Sy was getroud met haar neef, George Benjamin Dunbar Moodie, wat die trek Rhodesië toe aan die gang gesit het.
’n Gedenksteen ter nagedagtenis aan die Moodie-trek
Bron: Geoffrey Otterson
Ná Cecilia se dood het haar dogter Johanna en skoonseun Daniël die plaas verlaat en Daniël se suster Susanna en haar man, Johanna se broer, Thomas Dreyer Moodie, het in die huis gaan woon.
Volgens geskiedskrywer, Deon Storm, het Daniël in September 1900 ’n ‘joiner’ geword. Hy en sy pa se neef, Jochemus Erasmus, het blykbaar die Britte ondersteun. Dit is glo hoekom Daniël vir die res van die oorlog veilig op sy eie plaas kon woon en hoekom die plaas nie afgebrand is nie.
Die graf van Daniël Elardus Erasmus en Johanna Maria, gebore Moodie, in die Volksrust-distrik
Bron: geni.com
Daniël se twee ooms, generaal Daniël Jacobus Elardus ‘Maroela’ Erasmus en kommandant Stephanus Petrus ‘Swart Lawaai’ Erasmus, was kommandoleiers en bittereinders. Oom Maroela het dit wat ons vandag ken as Rietfontein, Grootfontein, Tierpoort, Bashewa en Onbekend, besit.
Daniël en Johanna en sommige van hulle kinders het op ’n plaas naby Volksrust gaan woon en Daniël het sy deel van die plaas Doornkloof in 1908 aan generaal Jan Smuts verkoop. Die egpaar is albei in die Volksrust-distrik oorlede en begrawe: Daniël is op 22 Augustus 1931 oorlede en Johanna meer as 30 jaar later, op 25 Mei 1962 |