Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.
Die afval-verlange is op dié mooi laaste Sondag van Oktober só erg, dat ek amper vir Metgesel oortuig om wéér ’n draai by ’n bekende ‘afvallige’ plek in ons kontrei te maak: Amper.
Só vat ons die soek-pad tot by Tierpoort se gat-pad (wat terloops deesdae glad nie so gaterig is nie) en verder met Garstfonteinweg-verlenging groot dorp se kant toe. Ons soektog is na ’n landelike kuierplek met iets boerekos-agtig op hulle spyskaart en sou skaapafval op daai spyskaart wees, sal dit vir my die boerpot wees.
’n Stewige porsie kerrie-afval met ’n uitsonderlike smaak
By die bekende Bronberg Voere draai ons af om te gaan vra of hulle dalk van ’n gawe plek weet en siedaar! Reg langs dié gereelde adverteerder in die Bronnie is ’n bord teen ’n buitemuur aangebring: Kontrei Spaza, sê dit. En in rooi langs ’n uitbeelding van ’n spoggerige werf-haan: Afro-Kook. Die hoop begin opvlam.
Onder ’n baie ruim sinkdak wat met plank en pale staangemaak is, is groot tafels met ruglose bankies op gruisklippies neergesit. Lank, lank gelede was Piet (van nou vergeet) se kwekery hier. Voor die kombuis en spaza-winkel (meer permanente strukture) merk ek ’n verhoog en reuse-luidsprekers en die vooruitsig pla effe.
Ons gaan neem plaas in die suid-westelike hoek van die groot kuierplek en toe ’n vriendelike kelnerin die spyskaart neersit, laat die heel eerste gereg waarop my oog val, my amper net daar die riel dans: Bok van Blerk se Kerrie Afval lees dit. Dan, om welke rede wonder ek, in Engels onder dit: “generous portion of ‘pens en pootjies’ served with rice.” Dit kos in enige taal R125.
Die suksesvolle pizza wat Metgesel ‘gebou’ het
Later sou ons uitvind dat dié afval na die sanger vernoem is, omdat hy met ’n toetslopie dit lekker genoeg gevind het om drie porsies ná mekaar te verslind. Die eienaar is Andrea, Bok se suster. Deel van die Pepler-gesin wat op Boschkop grootgeword het. Die skepper van die resep is Deon.
Aan die oostelike kant is mense besig om vandag se ‘special’ voor te berei: ’n Heel vark op ’n toeklap-spitbraai gebraai met bykosse. Maar my besluit is lankal finaal geneem.
Die afval is ook nie al boerekos-agtige geregte beskikbaar nie. Skaapstertjies (Deon’s famous ‘skaapstertjies’) met pap. Dit kos R120. ‘Portuguese giblets’ kos R99. Hoendermagies wat ons as ‘Moelas’ (moe-ellas) in Mosambiek leer ken het. Beeslewer (soetsuur) op pap of kapokaartappel (R69), twee skilpadjies ook op pap of kapok (R89). Beesstert met wortel en aartappel op pap, rys of kapokaartappels kos R110.
Boeretroos soos dié spaza dit voorsit
Aangenaam verras was ek om te sien dat Kontrei Spaza ’n aantal baie bekostigbare roosterkoeke (op die oop vuur) bedien. Selfs ’n roosterkoek-braaibroodjie teen R40.
Ek gaan nie veel verder op die spyskaart uitbrei nie. Dis ’n lywige een wat uiteenlopende keuses bied. Twee Engelse ontbyte, ’n kleintjie teen R29 en ’n grote met biefstuk teen R89, twee soorte slaai, een Grieks (R55) en een met onder meer biltong, Deense feta en avo (R75) is beskikbaar.
Die vier hamburger-keuses, waarvan een hoender, se pryse is nie te swaar op die sak nie. Tien verbuigings van biefstuk ook heel billik geprys, vyf hoender-keuses met die heel gebraaide hoender (R121) bes moontlik die koning-kraaier.
Kuiergaste onder die sinkdak-kuierplek
In die suid-oostelike hoek van die plek is ’n hout-pizza-oond waar ’n heel vlytige pizza-man flink raakvat: Ons hou hom ’n wyle dop. Hulle noem die basiese (Margarita) pizza ’n Kontrei Magrietjie en dit kos R65. Dan kan jy jou eie verbuiging bou deur uit ’n allemintige 24 bestanddele te kies om op die basis te laat sit.
Vandag het hulle ’n ‘special’ sê vriendelike kelner-meisie. Drie bestanddele kry jy gratis. Metgesel ‘bou’ ’n pizza met ses bestanddele daarop. Dis ’n goeie, smaaklike pizza sê sy en die kors is presies na haar smaak.
My afval daag op en die porsie is meer as genoegsaam, hoewel ek altyd van ’n groenboontjie en soetpatat of wat apart by my afval hou. Die kerrie-afval se smaak is voortreflik anders. Bykans ’n soetsuur agtergrond met ’n vêraf byt. Die pens-velletjies was net effens aan die taai kant. Soos ek geleer het, moet die pens minstens ’n uur aanstap oor ’n pruthitte, voor die pootjies bykom.
Die ingang na die plek wat boerekos-agtige geregte ook bedien
Vir my en ek vermoed vir ’n paar ander, was die geesdriftige sanger dié Sondag talentvol maar oor-verbryselend luid. Die meeste mense in die plek het gelief geneem om op mekaar te skreeu as sy saam met die geblikte musiek sing. Dis duidelik ’n kuierplek waar ‘almal jou naam ken’. Dit was komies om die bulderende geskree van geselsende gaste te hoor as die kunstenaar vir ’n oomblik stil raak. Toe Metgesel se wegneem-houer vir die huis-toe-vat-pizza aankom, bewe daai ‘boks’ soos ’n stamp-boor op ‘steroids’ voor die aanslag van die aggressiewe klankgolwe.
Vir die afval en ander geregte en die vriendelike mense, diens en die landelikheid, sal ek maklik terug Kontrei Spaza toe. Volle dranklisensie, het hulle daarby. Jy kan hulle bel by 083-453-0478 vir meer inligting. |