Politiek bly maar verdag Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 15 November 2021 13:38
Untitled Document

Die belangrikheid van ’n goeie proefleser het juis nou weer met die verkiesing onder sy besef gekom, sê Gert Mossie. Iewers lees hy: “Before the erection he was a defective in the police force”.  Dit moes natuurlik lees: “Before the election he was a detective in the police farce”.

Ja, die politiek was maar oraloor van altyd af ’n verdagte speletjie, sê Gert. Maar in die dae van Nat of Sap het dit vir veel eenvoudiger vermaak gesorg. Soos dit maar met die politieke gogga gaan, was daar sekerlik agteraf onderduimsheid, maar vuilspel op sy ergste, is hoogstens tot vuisgevegte of teer-en-veer beperk.

Jy moes destyds kies waar jy staan. Dit was óf Sap of Nat, of dit was Chev of dit was Ford. Jy kon nie van albei hou nie, want dan is jy gebrandmerk as ’n draadsitter en dié was amper so erg soos ’n joiner of ’n hanskakie – natuurlik afhangend of jy Sap of Nat was.

Die laat hom nou dink aan dié storie wat sy oorle oom Nierie op ’n dag vertel het, sê Gert: Soos dit in daardie dae dikwels die geval was, het die Natte en die Sappe op dieselfde dag in dieselfde dorpie vergadering gehou. Die een groep in die stadsaal en die ander groep in die skousaal.

Nou blyk dit dat beide die sprekers op elk van die vergaderings maar bra temerige en vervelige orators was. Dit was nie lank nie of ’n jonkman of twee by die Natte se vergadering stel luid voor dat hulle eerder die ou simpel vergadering nou moet los en die Sappe loop opdons – hy het ’n ander woord gebruik wat dikwels ook in die geval van swaar weer ter sprake kom.

Die spreker het temerig probeer keer, maar ’n hele span storm die saaldeure uit met een doel voor die oë: Om die Sappe te gaan opdinges.

Nou, of dit toeval was en of daar ’n spioen die woord na die Sap-vergadering gevat het, is nie duidelik nie, maar byna op dieselfde tyd sit ’n klomp Sappe af na die ander saal om dieselfde met die Natte te gaan doen.

So gebeur dit toe dat die Natte en die Sappe mekaar in die hoofstraat van die dorpie raakloop en die vuiste begin net daar klap. Dit was ’n hewige stryd, het oom Nierie vertel: Een wat sonder ’n oorwinnaar geëindig het. Blykbaar het een ou met ’n bulderstem die vegtendes tot bedaring gebring. Dis nou genoeg! Dit was nou lekker, maar nou is dit klaar, het die bulderstem laat waai.

En soos die toeval dit wou hê, het die geveg vlak voor die dorp se hotel losgebars. En so ’n geveg maak ’n man dors. Ja, het oom Nierie vertel, die strydbyle is tydelik begrawe en lanklaas (indien ooit) het Nat en Sap so lank en só lekker saam gekuier. Ou Cohen van die Kings Hotel was uiteindelik die enigste wenner daardie aand.

Leë beloftes, sê Grootpiet. Dit is vir hom die opvallendste eienskap van die aanloop na ’n politieke verkiesing. Moenie ’n woord glo nie, is wat dit hom geleer het. Amper so erg soos daai belofte wat hy anderdag op die toiletrol-verpakking lees, sê Piet.

Nou is sy Ingels nie van die beste nie, maar soos hy die ding verstaan belowe hulle op daardie verpakking “350 ‘sheets’ per roll.” Net so ’n kafstorie soos ’n verkiesing-belofte, is dit. As dit waar was sou een só “roll” hom bykans ’n jaar gehou het, sê Piet.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger