’n Rekordgetal van 488 ondernemings het by Sakeliga KragDag uitgestal en die ekspo is deur 21 000 mense van 14 tot 16 Oktober op Diamantvallei Landgoed, Rhenosterfontein bygewoon.

Henry Geldenhuys, TLU SA se president, by die TLU SA inligting-kraampie
Foto’s: Verskaf
Die ekspo is grootliks ’n alternatiewe energie- en selfstandigheid-ekspo. Met die leuse ‘Doen jou eie ding’, dien dit as uitstalvenster vir talle ondernemings om hulle selfstandigheidsoplossings op verskeie lewensterreine ten toon te stel.
Dit is die eerste keer sedert 2019 wat dié ekspo weer aangebied word. KragDag sou in Desember 2020 plaasvind, maar is deur die Tshwane-metroraad weens Covid-regulasies verbied.

Die Donkerhoekse Dagbreek Ontwikkelingsentrum by KragDag
Die organiseerders het verlede jaar gesê dit maak nie sin dat die ekspo verbied is, terwyl daar daagliks groot winkelsentrums en weekliks talle markte regoor die land oop is met veelvoude meer besoekers nie. Die uitstalterrein strek oor ses hektaar (die grootte van 12 rugbyvelde).

Boogskiet van ’n perd se rug af
Vanjaar het Tshwane se burgemeester, Randal Williams, in sy openingsrede by die ekspo sy ondersteuning van KragDag en die waarde daarvan vir die gemeenskap uitgespreek.

Solidariteit Helpende Hand se Omgee-mark
KragDag bestuurshoof, HP Steyn, sê in die moeilike besluit oor deurdruk met die hou van die ekspo moes die organiseerders worstel met die vrae, “Indien nie nou nie, wanneer?” en “Indien nie ons nie, wie?” Dit is die organiseerders se wens dat die voorbeeld wat die ekspo gestel het, die weg sal baan vir ander ekspo’s en feeste om ook weer te hervat.

KragDag is deur 21 000 mense oor drie dae bygewoon
Besoekers kon selfstandigheidsoplossings besigtig vir alternatiewe energie, water veiligheid, opvoedkunde, tegnologie, voedselproduksie, gesondheid, konstruksie, ontspanning, vervoer, finansies, Doen-dit-self planne, elektronika, 3D-drukkers, die Internet van Dinge, nuwe patente en hommeltuie en toerusting vind vir entrepreneurskap en lewensbeskoulike filosofie.

’n Deel van die landbou sub-ekspo
|

Besoekers by die ingang
|
Ingesluit by die ekspo was ook ’n landbou-ekspo in samewerking met TLU-SA. Met sowat 95 uitstallers en verskeie items en demonstrasies in die arena en veerastentoonstellings, was dit die grootste landbou-ekspo wat vanjaar in die land gehou is.

’n ‘Cowgirl’ by Ketelkraal
In die raadsaal het verskeie hoë-profiel sprekers, soos Dawie Roodt, dr Herman Edeling en die PANDA aktuaris, Nick Hudson, aktuele aanbiedings gelewer. Opnames van dié gesprekke is op sosiale media uitgesaai.

Die grootste en kleinste twee voertuie by die ekspo
Die Junior Entrepreneurskompetisie is in samewerking met Fergusmor, Bepicon en Solidariteit Helpende Hand aangebied. Jongmense is aangemoedig om hulle entrepreneursvaardighede op te skerp en hulle produkte en dienste op die ekspo te bemark. Die wenner van die Doelgerig-afdeling was Fire Buddies met ’n kontantprys van R10 000 en sake-afrigting by Fergusmor.

Kraampies
“In ’n tyd wat mense vasgevang is in vrees en talle groetwoorde afsluit met ‘Wees veilig’, word met die ekspo eerder gepoog om mense aan te moedig om kreatief te wees en avontuurlik te leef,” sê HP Steyn. |