Vurige Stanley help met oom Paul se standbeeld Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 15 November 2021 13:30
Untitled Document

Stanley Cierenberg was op Paul Kruger se verjaardag op 10 Oktober een van 40 mense wat die Kruger-standbeeld op Kerkplein gaan skoonmaak het. Daar het hy sy T-hemp gelig om vir die mense te wys hoe hy die FAK se vlam met tatoeëernaalde op sy borskas laat verewig het.


Stanley staan regs op die punt en Quentin is tweede van links by president Paul Kruger se
standbeeld op Kerkplein
Foto: Odette Venter

Die 49-jarige Stanley, ’n digter en aktivis teen plaasmoorde, vertel dat hy die Voortrekkermonument die naweek voor die skoonmaakaksie gaan besoek het. Hy het verby die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se hoofkantoor op dié terrein geloop en ’n foto van die embleem teen die muur geneem. Daardie Maandag het hy die embleem op sy borskas, net onder die woord ‘vryheid’, laat tatoeëer met ’n bloedrooi vlam.


Stanley, heel regs, lig sy T-hemp op om vir die mense die FAK se vlam op sy bors te wys
Foto: Odette Venter

Die FAK se besturende direkteur, dr Danie Langner, het gesê dit is die eerste keer dat die organisasie se embleem op dié onkonvensionele wyse gebruik word, maar dit is duidelik dat Stanley se liefde vir taal, kultuur en geskiedenis helder brand.


Die FAK se vlam is net onder die woord ‘vryheid’ met tatoeëernaalde op Stanley
se borskas verewig
Foto: FAK

Stanley het twee digbundels, ‘Vaderland’ en ‘Moedertaal’, die lig laat sien en dié “volksvreemd” geklede motorfietsryer daag gereeld by slagoffers van plaasaanvalle se hofsake en begrafnisse op. Hy skryf nie net gedigte vir die slagoffers nie; dele van die gedigte is saam met die slagoffers se name op sy lyf getatoeëer.


Stanley as aktivis teen plaasmoorde
Foto: Verskaf

Volksvreemd of te nie, mense kyk wanneer Stanley sy T-hemp oplig, soos hy op Kerkplein gedoen het. Die Kruger-standbeeld se skoonmaakaksie is deur Quentin Meyer gereël. Die 39-jarige Quentin is al tien jaar besig met die bewaring, skoonmaak en onderhoud van standbeelde, monumente, grafte en Afrikaanse erfenisterreine. Dit is danksy sy aanmoediging dat groot en klein met besems, lappe en borsels op Kerkplein opgedaag het.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger