Ruitertjie se toewyding beloon Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 15 November 2021 13:28
Untitled Document

Cheyanne Wilson van Tierpoort het ’n sesde plek behaal in die vlak een (70 cm) Suid-Afrikaanse Vereniging vir Ruiterkunsskole (Sanesa) se nasionale kompetisie. Haar span, die Gauteng-Noord A-span, het dié kompetisie, wat van 4 tot 9 Oktober gehou is, gewen.


Cheyanne en Gobi by die Sanesa nasionale kompetisie wat van 4 tot 9 Oktober gehou is
Foto: Denford Studios

In Junie het ons berig dat dié talentvolle 14-jarige ruiter groot prestasies behaal ten spyte van talle hindernisse. Cheyanne ry nou maar slegs twee jaar perd en haar droom was om met haar eie perd in skoue mee te ding. Toe die pandemie verlede jaar uitbreek, het haar pa sy werk verloor en kon haar ouers nie die inskrywingsfooie vir skoue betaal nie.

Boonop het haar perd, Gobi, perdesiekte gekry. Nadine Minnaar van stalle op Tierpoort, vertel dat Gobi dit baie amper nie gemaak het nie, maar dat Cheyanne se toewyding hom deurgetrek het.


Cheyanne Wilson en Gobi
Foto: Verskaf

Cheyanne, ’n tuisskoler, werk deur die week by Nadine se stalle. Danksy haar oom se borgskap, is vanjaar die eerste keer wat sy in die Sanesa-skoleliga meeding. Sy het ook begin halters maak om te verkoop, sodat sy in die toekoms vir haar eie skoue kan betaal en die regte toerusting vir deelname kan koop.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger