‘Begrond’ op Diamond Hill verfilm Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 15 November 2021 13:26
Untitled Document

Die film, ‘Begrond’, wat gegrond is op die geskiedenis-roman van dieselfde naam deur dr Dirk Hermann, is op Diamond Hill verfilm. Die geskiedkundige ligging, waar die Slag van Diamond Hill van 11 tot 12 Junie 1900 afgespeel het, en die skanse wat vandag steeds staande is, dra by tot die hartroerende effek van die film, wat nou gratis op die Internet te sien is.

‘Begrond’ begin met ’n plaasmoord wat Kleinfaan Venter dwing om terug te keur na die plaas waar sy geliefde oupa vermoor is. Daar vertel sy ouma Hester hom oor sy grootouma Katryn se tyd in die konsentrasiekamp en haar terugkeer na dié plaas.


’n Konsentrasiekamp-toneel
Foto’s: Verskaf

Katryn was die enigste een in haar gesin wat die Heilbron-konsentrasiekamp oorleef het en ná die vrede moes sy vrou-alleen terug gaan plaas toe terwyl haar pa en vriend nog in ’n interneringskamp aangehou is. Aktrise Carla Smith vertolk die rol van Katryn en Lida Botha die rol van ouma Hester.

Die film is van 22 November tot 2 Desember 2019 deur die produksiehuis Forum Films verfilm. Elrich Yssel is die regisseur en draaiboekskrywer. Johan Yssel het oor ’n tydperk van drie weke spesiaal vir die film ’n tipiese voor-oorlogse huis op Diamond Hill gebou. Die fondasie en fondasiemure was tot op vloervlak van klip en hulle het rou kleistene vir mure gebruik.


Carla Smith as Katryn op Diamond Hill

Rayton se Voortrekkers, Hans en Marlene Sturgeon, het hulle osse ingespan om deel van die filmproduksie te wees. Marlene was selfs ’n ekstra op stel in die konsentrasiekamp by Irene.

Dieselfde vier osse wat in die Rageltjie de Beer-film gebruik is, was voor die wa ingespan: Swartland, Lapland, Mooiman en Wildeman.


Die filmspan voor die huis wat binne drie weke vir die film gebou is

Skrywer, dr Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê dat hoewel die storie fiksie is, is elke karakter en verhaal op ware mense en hulle ervaring gebaseer. Die tonele uit die konsentrasiekamp is gebaseer op briewe wat ma’s in die oorlog geskryf het en artefakte, soos die ou stinkhouttafel, bestaan werklik en word by museums uitgestal.

Begrond’ vertel hoe vorige generasies opgestaan het. Kleinfaan leer uit sy grootouma Katryn se krag en besef, “hier is ek begrond”.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger