Gemeente groet geliefde oom Fred Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 15 November 2021 13:23
Untitled Document

Fred van der Touw, bekend as die vriendelike en behulpsame assistent-fasiliteitebestuurder by NG Gemeente Tygerpoort, is op 22 Oktober in die ouderdom van 69 jaar by ’n kerkraadsbraai by die kerkgebou oorlede.

“Dit is ’n groot verlies vir ons almal,” skryf die gemeente op hulle Facebook-blad. “Ons harte en gebede gaan uit aan tannie Isobel na hierdie traumatiese gebeure . . . Ons gaan sy harde werk, liefde, bereidwilligheid om altyd te help en vriendelike groet by die deur ontsettend baie mis.”


Fred van der Touw
Foto: Facebook

Huldeblyke van gemeentelede het ná Fred se afsterwe ingestroom. Salome Luella Potgieter skryf dat haar kleinkinders mal was oor dié oom wat almal altyd so vriendelik by die kerkdeur gegroet het.

Lizna Retief skryf: “Wat ’n reuse verlies! Fred was ’n wonderlike mens wat altyd in almal belanggestel het en vriendelik met almal gesels het. Ek is so spyt ek het nie die laaste pragtige hopies gloeiende kole wat hy vir die kerkraadsbraai gemaak het, afgeneem nie. Dit was ’n teken van sy perfekte manier van werk. Ons gaan hom op meer as een terrein bitter baie mis.”

Fred se gedenkdiens was op 29 Oktober. Die gemeente se hele predikante-span het aan die erediens deelgeneem en almal se trane het maar vlak gesit.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger