‘Rock-Covery for Ewald’ was die naam van sewe opvoerings wat musikante vroeg in November by Sink Shack op Bronkhorstspruit gehou het as fondsinsameling vir die 24-jarige Ewald Verster.
Ewald, ’n alumnus van Hoërskool Erasmus op Bronkhorstspruit, het sy nek gebreek toe hy met ’n gesinsvakansie op Sodwana in ’n swembad geduik het. Hy is gestabiliseer en na Pretoria vervoer, waar hy mediese sorg ontvang. Sy medies dek ongelukkig nie die koste van nasorg en verdere operasies nie.
Ewald het twee tot vier maande van intensiewe rehabilitasie nodig om hom te help om funksionering van sy hand en bolyf te herwin. Die rehabilitasiekoste is R134 000 per maand.

Ewald Verster
Foto: Verskaf
Ewald se skoonsus, Rianette Verster, het ’n Back-a-Buddy blad vir fondsinsameling geskep. Daarop verduidelik sy dat Ewald se kanse om weer te loop in dié stadium nie baie goed lyk nie, maar dat die familie hom graag wil help om dit wat hy die meeste geniet, weer te kan doen.
Ewald is passievol oor musiek en Deon, die eienaar van Sink Shack waar musikante die kans kry om op te tree, sê dat Ewald ’n goeie vriend van hulle is. Ewald werk by GoodX Medical Software en Rianette sê dat hy ’n baie onafhanklike mens is.
Vir meer inligting, besoek www.backabuddy.co.za/ewald-verster. |