Man ná jaagtog op snelweg koelbloedig doodgeskiet Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 15 November 2021 13:16
Untitled Document

Motoriste op die landelike deel van die N4-Oos snelweg kon hulle oë nie glo nie toe daar op ’n doodgewone Dinsdagoggend helder oordag ’n doodsveragtende jaagtog was voor ’n voortvlugtende koelbloedig doodgeskiet is.

Die Boschkop-polisie is ongeveer 10.30 vm op 26 Oktober in kennis gestel van die voorval tussen die Boschkop/Donkerhoek-afrit en die Cullinan/Rayton-afrit van die snelweg. Ooggetuies het vertel dat insittendes van ’n silwergrys Mercedes-Benz en ’n Ford Ranger op ’n swart VW Polo losgebrand het.


Die toneel tussen die Boschkop/Donkerhoek-afrit en die Cullinan/Rayton-afrit van die snelweg
Foto: Emer-G-Med

Polisiewoordvoerder, sersant Yeroboam Mbatsane, het gesê dat die bestuurder, die 35-jarige Phillip Given Mnguni, verskeie kere geskiet is en dat twee passasiers ook gewond is. Phillip het glo beheer oor die voertuig verloor en dit het ongeveer 50 meter van die pad af in die veld tot stilstand gekom.

Ooggetuies het gesê dat die agtervolgers stilgehou het, uitgeklim het en per voet agterna is. Dit lyk asof die gewonde Phillip vir hulle probeer weghardloop het, want sy liggaam is in ’n sloot verskeie meters van die motor af, gevind. Hy is verskeie kere geskiet.


Polisie-lede loop die veld in
Foto: Carli Koch

Emer-G-Med woordvoerder, Kyle van Reenen, sê dat hulle met hul aankoms daar kon bevestig dat die bestuurder op die toneel dood is. ’n Passasier, glo die oorledene se vriendin, is vir skietwonde behandel en na ’n nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling. Die derde insittende het slegs geringe beserings gehad.

Geskokte omstanders het in die veld staan en kyk hoe die polisie bewyse van die misdaadtoneel verwyder. Vier ure ná die polisie die bewyse verwyder het, kon die oorledene se familie van Mamelodi-Wes, dit wat van sy besittings en klere in die motor oor was, huis toe neem.


Geskokte omstanders en ooggetuies het in die veld staan en kyk hoe die polisie bewyse van die misdaadtoneel verwyder
Foto: Verskaf

Sersant Mbatsane het gesê die polisie het aanvanklik vermoed dat dit ’n poging tot ’n kaping was, maar ná hulle met ooggetuies gepraat het, is ’n saak van moord en poging tot moord oopgemaak.

Volgens polisiewoordvoerder, brigadier Brenda Muridili, het die taakspan wat aangestel is om bendebedrywighede in Mamelodi te ondersoek, Phillip verbind met talle sake waarby die Boko Haram-bende betrek word. Hy was glo een van die mees gesoekte verdagtes in die ondersoek na Boko Haram se bedrywighede.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger