Skuiling sorg toe dat twee wense waar word Print E-mail
News - Vreethans
Saturday, 16 October 2021 06:23
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Dis Sondag en die son skyn jou werklik – die eerste keer ná drie dae se donderstorms en trietsige bewolkte weer. Dit is ’n dag wat roep na ’n uitstappie en ’n versnapering in die oopte, sê ek. ‘Lok my die wandelpad,’ las Metgesel aspris by.

Sy verlang na perde: Om net weer die nabyheid en geselskap van ’n perd te ervaar. Om een aan te raak en oor die fluweel sagtheid van ’n perd se neusbrug te streel, sê Metgesel.


Die speelpark vir groter kleingoed met vrywillige hondestappers in die agtergrond
..


’n Gedeelte van die ruim grasperk waar ’n sonsambreel in ’n japtrap vir besoekers
opgeslaan word

Een navraag later en ons het die oplossing wat met een klap ons beide se Sondag-wense vervul: Wet Nose. Op Vaalbank neffens die ou Bronkie-Pretoriapad is ’n groot hoewe waar dié ‘Natsnoet-organisasie’ ’n diere redding-skuiling bedryf. Pro-lewe, is hulle.

Verwaarloosde, vergete en weggooi-honde, katte en ja, perde en donkies word deur dié welsynorganisasie ingeneem, versorg en nuwe, liefdevolle huise word vir die diere gesoek.  


Die kafee by die stalle

Hulle perde-afdeling is onlangs uitgebrei en nuwe stalle en weiplek is voorsien. En van die vorige stalle, is toe ingerig as ’n kuierplekkie gepas genoem ‘Café @ The Stables’.

‘Dié stal-kafee spog met ’n baie groot grasperk waar aansit-tafeltjies oral staangemaak is en sonsambrele vir besoekers opgeslaan word, sou hulle wou. Eenkant op die grasperk is ’n kinderhemel ingeruim met klimrame, skoppelmaaie en wat nog om die groter kleingoed besig te hou. In ’n gedeelte van die stalle is ’n speelkamer vir kleiner kleingoed met sagte speelgoed voorsien.


Ou Witboy het gesorg vir ’n broodnodige ‘sielskuier’ saam met Metgesel

Die koffiemasjiene en kombuisie beslaan die een hoek en in die middel is ’n vertrekkie met twee lang-tafels vir dié wat nie op die grasperkplek wil kuier nie.

Die wind stu effe en ons besluit die groot oop staldeur is so amper buite dat ons binne sal plaasneem. Van hier sien ons hoe vrywilligers van die hokhonde aan leibande vir uitstappies in die oopte neem. Die baldadige vreugde is iets om gade te slaan en die honde geniet dit duidelik net so baie.


Die prettige spyskaartjie

’n Vriendelike jonge dame kom stel haar voor en deel ons mee dat sy vandag ons kelner en ons kok sal wees. Die spyskaartjies is prettig met diere-karikature verfraai. Enetjie vir drinkgoed (ses soorte koffie, waarvan een tee is) ander sagte drankies en soetgoed. Die ander een is vir versnaperinge en happies van ’n meer substansiële aard. Nie ’n baie wye keuse nie en ons sou dit ook nie verwag nie.  

Burgers en hoenderburgers word saam met skyfies bedien en kos R60. Ses soorte roosterbroodjies wissel tussen R30 en R50. Jy kan ook ’n Russian met skyfies of diepgebraaide hoender met skyfies teen R65 of net ’n groot bord ‘tjips’ teen R25 bestel.


Mooi sous-houer, lekker hoender-repe, maar garnering sou welkom wees

Die groot verrassing op die klein spyskaartjie is die twee geregte spesiaal vir honde. Wildsvleis-roulade of frikkadelle kos R40 per porsie. Jou eie honde aan ’n leiband kan saam met jou aansit of jy kan van die inwonende weggooi-honde saambring vir ’n uitstappie en bederfie om te eet.

Ek het die kaasburger bestel en dit geniet. Die ‘plattie’ is tuisgemaak en smaaklik. Metgesel se hoender-repe ‘heel aangenaam’ dankie en die skyfies soos dit moet. ’n Bietjie garnering net vir die oog se voeding, sou welkom wees. Alle opbrengste uit die koffiewinkel word aangewend om die diereskuiling te help.


’n Besonderse appeltert vir later by die huis

Ons het oorgenoeg ingeneem, maar besluit om die appeltert (ons het iewers gehoor dit is besonders) huis toe te neem. ’n Braksakkie in die ware sin. ’n Belewenis met ’n gevlegte broskors en smaaklik blyk dié tert toe later te wees.

Ons het toe agterna die perde en donkie besoek, en Metgesel het lank en lekker gekuier. Baie goed vir die siel, sê sy.


’n Veilige hawe . . .

As jy meer oor Wet Nose, die aanneem van wees-diere en oor die koffie-stalle wil weet, skakel 013-932-3941 of 082-677-8084.   

 

© 2024 Die/The Bronberger