Ses voertuie brand uit by pretpark Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 16 October 2021 06:22
Untitled Document

Ses voertuie het op Erfenisdag, 24 September, by Cedar Junction op plot 404, Zwavelpoort aan die brand geslaan. Die brand in die oord se parkeerplek langs Lynnwoodweg-verlenging het vermoedelik ontstaan toe ’n man ’n sigaretaansteker gebruik en dit ’n gasontploffing veroorsaak het.

Woordvoerder van die Tshwane nood- en reddingsdienste, Charles Mabaso, het berig dat nooddienste ongeveer 3:20 nm ontbied is. Brandbestryders van Bronkhorstspruit en Silverton het die brand by vyf van die voertuie geblus, en mense by die oord het die sesde brandende voertuig met droë chemikalieë geblus.


Ses voertuie brand by Cedar Junction se parkeerplek
Foto’s: Skermgreep van video

Die metropolisie en polisiebeamptes was op die toneel en die man, in sy dertigs, wat vermoedelik die brand veroorsaak het, is in hegtenis geneem.

Frik Bezuidenhoudt van Swaeltjie sê dat hy eers die rook vanaf sy huis gesien het en toe het die boodskappe op die Mooiplaats-Zwavelpoort-Tierpoort groepe begin deurkom.

“My vrou het gesê, vat jou kamera en ry. Wel, met my aankoms daar was dit behoorlik chaos gewees. Die voertuie het probeer uitkom. Mense het oor Lynnwoodweg gehardloop, weg van die vuur af. Ek dink hulle was bang dat nog voertuie aan die brand gaan raak en ontplof,” sê Frik.


Brandweerdienste op die toneel
Foto: Frik Bezuidenhoudt

“Gelukkig is niemand beseer sover ek weet nie. Ek het maar op ’n veilige afstand gebly en die foto’s geneem,” sê hy.

Cedar Junction is ’n oord op 8,5 hektaar met ’n twee hektaar grootte dam aan die voet van die Bronberg. Daar is ’n 1,2 km treinspoor met twee miniatuur treine wat besoekers rondry. Die oord bied vermaak, soos swembaddens, waterglybane en speelplek vir kinders, waar mense op ‘braaidag’ uitgespan het.


Een van die voertuie in vlamme gehul
Foto: Frik Bezuidenhoudt

Volgens ’n verklaring wat die oord uitgereik het, vermoed hulle dat die skade op braaidag die resultaat van brandstigting is. Die verklaring lui dat die oord se rampbestuursplan dadelik in werking getree het.

Alle swembaddens en waterglybane is toegemaak en alle personeel, wat nie as lewensredders by die swembaddens agtergebly het nie, is gestuur om te help om die brande te blus. Agt-en-veertig funksionerende brandblussers, wat onlangs gediens is, is gebruik.

Met die hulp van besoekers, kon die oord help om baie voertuie uit die pad te kry sonder om mense en ander voertuie in gevaar te stel en sonder enige beserings. Ongelukkig het mense paniekerig geraak en gejaag om hulle voertuie te verskuif en chaos het uitgebreek, lui die oord se verklaring.


Die uitgebrande voertuie
Foto: Frik Bezuidenhoudt

“Die insident het ons geleer om ons rampbestuursplan te verbeter. Ons het reeds die dienste van ’n spesialis brandinspekteur gekontrakteer. Alle brandblussers sal opgegradeer word en meer sal gekry word, spesifiek in die parkeergebied,” lui die verklaring.

Besoekers het op die oord se Facebook-blad gevra hoekom ’n veilige, afgekampte parkeerarea, bestuur deur ’n wag en valboom, nie oorweeg word nie. Die oord het geantwoord dat hulle vroeër ’n kaartstelsel probeer het, waar mense ’n kaart by die ingang ontvang en weer by die uitgang moet teruggee. Die resultaat was egter ’n verkeersopeenhoping in Lynnwoodweg en die enigste opsie was glo om opgeleide wagte by die voertuie te gebruik.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger