Geen keer aan dié kiem Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Saturday, 16 October 2021 06:11
Untitled Document

Onthou jy die dae toe amper alles by supermarkte en veral by Indiërs se winkels R9,99 gekos het, wil Gert Mossie weet. Ja, hy onthou dit soos gister, want hy dink baie winkeliers gebruik nou nog dié breinsmokkel-foefie, sê Groot Piet.

Alles kos iets rand en 99 sent, want die mens se rekenaar tussen sy ore neig om te dink dit maak ’n ding baie goedkoper as sou dit ’n ronde R10 of wat gekos het.

Nou ja, sê Gert Mossie, deesdae met die kouwit-gogga wat los is, sien hy presies ’n soortgelyke ding gebeur – maar net baie anders . . .

Jy moet nou maar kyk na elke advertensie vir reinigers, bleikmiddels en sepe. Die lot van hulle stel dit onomwonde dat hulle betrokke produk 99,9 persent van alle skadelike kouwit- en ander kieme in die kiem smoor, kan jy maar sê.

Wat sy kop nou ‘boggel’ sê Gert, is hoe lyk daardie 0,1 persent-kiem dan en wat maak hom anders dat geen niks hom in ’n hoek kan vaskeer en saam met 99,9 van sy broers en susters kan uitroei nie.

Hy sien selfs net gisteraand ’n TV-advertensie vir daardie bekende seep-soort wat donkiejare reeds daarop aanspraak maak dat hulle seep mense van verdrinking red. En jou werklik beweer die ou wat hande was dat die skuim so staan, dat hierdie seep met ‘meer’ as 99,9 persent se ongewende kieme klaarspeel.

Nou vra hy wat Gert is met trane in die oë bokant sy blou masker – kan meer as 99,9 persent dan iets anders as 100 persent wees?

Sware gevare
Hy hoor die mense kerm oor aardverwarming en die gat in die osoonlaag en beeste se uitlaatgasse, maar die grootste probleem wat die wêreld bedreig is hier reg onder ons voete, sê oom Buks (oftewel ‘Dom Boer’) nou die anderdag. En dit wil hom half voorkom of hy die enigste mens is wat dit besef.

Dit is die geleidelike, maar knaende, toename in swaartekrag wat reeds al die huppel uit sy stap gesteel het en byna daagliks erger word. As dit teen hierdie tempo voortgaan, gaan die verswarende swaartekrag ons almal eersdaags erg terneergedruk en dalk selfs platvloers maak.

“Kom tog ’n slag aarde toe en wees saam met my bekommerd oor die regte, ware bedreigings,” waarsku oom Buks

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger