Terugploeg deel tonne kos uit Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 16 October 2021 06:02
Untitled Document

Terugploeg se verpakkings-, verwerkings- en verspreidingsaanleg digby die Rayton-Cullinan-afrit van die N4-Oos-snelweg is in die laaste fase van konstruksie en gaan vanaf November ten volle operasioneel wees.

In Desember verlede jaar het ons berig dat Terugploeg, ’n liefdadigheidsprojek wat in die pandemie tydperk ontstaan het om na honger mense om te sien, vanjaar aan hulle nuwe hoofkwartier sou begin bou op die agt hektaar grond teen die N4, wat deur die broers Faan en Dirk van der Walt, stigters van WeBuyCars, beskikbaar gestel is.

Lood Bester, medestigter van Terugploeg, het gesê die konsep het ontstaan in gesprekke tussen hom en sy vriend, Herman Marx van Vibro Bricks, toe hulle in die begin van inperking bewus geraak het van die enorme voedselnood in sekere Afrikaanssprekende gemeenskappe en dat daar vir hulle geen hulp beskikbaar gestel is nie.


Van links na regs: Faan van der Walt; Dirk van der Walt; Zahn Hulm; Lood Bester;
Louis van der Watt; en Herman Marx
Foto: Atterbury Trust

Lood en Herman het aanvanklik self kos aangekoop en in die gemeenskappe versprei. Ongeveer ’n maand ná hulle hiermee begin het, het hulle met Louis van der Watt, hoof uitvoerende beampte van die Atterbury Groep, ooreengekom om Terugploeg vanuit Atterbury Trust te bestuur.

Volgens Zahn Hulme, uitvoerende trustee van Atterbury Trust, is daar sedert die aanvang van die projek reeds meer as 125 ton kos aan ouetehuise, skole en kinderhuise in en om Pretoria uitgedeel.

Benewens die kosverwerkingsaanleg en koelstoor, word ’n groente- en vrugtetuin beplan, asook ’n klerebank. Lood sê dat ’n aantal werksverskaffingsinisiatiewe op die perseel beplan word – vleis gaan verwerk word, braaihout gaan gesny, verpak en verkoop word.

Verder word daar beoog om ’n lesingsaal in die gebou in te rig, waarin kursusse en praatjies aanbied kan word om mense te inspireer met praktiese raad en opleiding, sodat hulle ook hulle eie omstandighede self kan verbeter.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger