Plaaslike eerbetoon aan Dickason-dogtertjies Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 16 October 2021 05:58
Untitled Document

Familie en vriende van die Dickason-gesin, sowel as lidmate van NG Tygerpoort-gemeente, het potplantjies by The Wilds, in De Villebois Mareuilrylaan gesit as eerbetoon aan die tweejarige tweeling, Maya en Karla, en hulle sesjarige sussie, Liane, wat onlangs in Nieu Zeeland oorlede is.

Dr Graham Dickason, ’n ortopediese chirurg wat vroeër by die Pretoria Oos-hospitaal gewerk het, het die aand van 16 September ná ’n werksgeleentheid op die liggame van sy drie dogters afgekom. Sy vrou Lauren, ook ’n dokter, het in die streekshof in Timaru in verband met die kinders se moord verskyn.


Die potplante by The Wild se ingang
Foto: Noxolo Sibiya

Lauren het weer op 5 Oktober in die hooggeregshof in Timaru verskyn en die saak is tot 18 Oktober uitgestel terwyl sy steeds sielkundige assessering ondergaan. Lauren het nog nie op die aanklagte teen haar gepleit nie en word by ’n psigiatriese eenheid van die Hillmorton-hospitaal in Christchurch aangehou.

Die Dickason gesin het in Augustus na Nieu Zeeland geïmmigreer en was maar vir ’n week in hulle nuwe huis oorkant die Timaru Hospitaal ná hulle uit ’n streng twee-weke lange Covid-19 kwarantyn gekom het.

Nieu Zeelandse media het berig dat Lauren glo opgehou het om haar kroniese medikasie te neem omdat sy besorg was daaroor dat dit dalk hulle immigrasie-aansoek kon beïnvloed.


Dokters Graham en Lauren Dickason met hulle dogtertjies Liane, ses, en die tweejarige
tweeling, Maya en Karla

Die Dickason-gesin was voor hulle vertrek by die NG Tygerpoort-gemeente in Shere betrokke. “Ons is deeglik bewus dat heelwat van ons gemeentelede hierdie gesin baie goed ken, aangesien hulle tot onlangs ingeskakel het by ons gemeente. Julle kan gerus hierdie inisiatief ondersteun,” lui ’n inskrywing oor potplantjies by The Wilds op dié gemeente se Facebook-blad.

“Die landgoed sal die potplantjies in ’n tuin plant as nagedagtenis aan die drie dogtertjies,” skryf die gemeente. Knap ná dié aanmoediging kon ’n wit kruis, verskeie kleurvolle potplante en ’n teddiebeer langs die woord ‘Hoop’ by The Wilds se ingang gesien word.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger