Tannie Willemien vier lente in haar 99ste jaar Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 16 October 2021 05:57
Untitled Document

Betsie Steyn

Die 99-jarige Willemien Wieringa van Kleinfontein vier die lente met haar Petria wat bloupers in die blom staan. Sy doen al haar tuinwerk self – spit, skoffel, natgooi, bewerk die gras, het altyd self gate gegrawe en bome en struike geplant.

“Ek het in Holland geleer werk en ek glo dis wat my hier aan die gang hou. My gesondheid is baie goed – ek ken nie siektes nie!” vertel sy.

Tannie Willemien doen nog self haar eie huiswerk, wasgoed, bestuur nog motor en doen die fynste kunsborduurwerk. Sy doen graag blokkiesraaisels en is altyd op hoogte van die jongste nuus – plaaslik en wêreldwyd.


Die 99-jarige tannie Willemien Wieringa by haar Petria in volle blom
Foto: Adri du Preez

Tannie Willemien is in Wageningen naby Arnhem (waar ’n groot slag in die Tweede Wêreldoorlog in September plaasgevind het) gebore. Haar twee kinders, Emma en Binnert, is ook daar gebore en in 1952 het hulle na Suid-Afrika geëmigreer. Hulle het op 26 Mei met die boot in Kaapstad aangekom waar tannie Willemien se man, Wybe (’n Fries van geboorte), hulle ingewag het.

Hulle is per trein na Pretoria en op 28 Mei 1952 was hulle ses jaar getroud. Wybe het ’n fabriek in Pretoria-Wes gehad waar hy masjiene geïnstalleer het om boere se saad skoon te maak vir verkope – ’n ambag wat hy in Holland geleer het.

Die gesin het in Arcadia gewoon en tannie Willemien is nou al 17 jaar op Kleinfontein. Emma en haar gesin woon in Duitsland en Binnert-hulle in Amerika, waar tannie Willemien al verskeie kere by hulle gaan kuier het.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger