Alwyn oorlede ná dieseltenk ontplof Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 16 October 2021 05:55
Untitled Document

Alwyn Erasmus is oorlede en nog ’n man is beseer toe ’n dieseltenk op 16 September op plot 231, Meerkatpad, Mooiplaats ontplof het.

Casper Visser, woordvoerder vir Volunteer Emergency Medical Response Unit (Vemru) sê dat hulle noodspan net voor 9 vm na die toneel op dié Mooiplaats-kleinhoewe langs die Boschkoppad uitgeroep is.


Alwyn Erasmus en Corlia Strauss
Foto: Facebook

Alwyn het kritiese beserings opgedoen en hy is met die Netcare 911 mediese helikopter na Milpark, ’n spesialis brandwondeenheid in Johannesburg, geneem. Omstanders sê dat Alwyn se klere letterlik van hom af gebrand het. Sy vriendin, Corlia Strauss, sê dat Alwyn ’n paar ure daarna in Milpark hospitaal oorlede is.


Nooddienste op die perseel ná die ontploffing
Foto: Vemru

“Dit was ’n fratsongeluk by ons fabriek. Daar was ’n ontploffing en hy het 93% brandwonde opgedoen,” sê sy.


Die aanwysingsbord na die perseel
Foto: Wynand van der Merwe

Die tweede pasiënt het ligte beserings opgedoen en is per ambulans na ’n plaaslike hospitaal geneem. Polisiedienste was op die toneel om die oorsaak van die ontploffing te ondersoek. Volgens adjudant-offisier Wynand van der Merwe van die Boschkop-polisiestasie se landelike beveiligingseenheid was Alwyn besig om aan leë tenks by dié nuwe brandstofopgaarplek te sweis toe die gasdampe ontplof het.


Die perseel
Foto: Verskaf

Corlia, wat voorheen by Delfin gewerk het, skryf dat Alwyn haar anker, leermeester, beste maat, “lover” en sielsgenoot was. Sy sê dat hulle onafskeidbaar was en elke liewe dag saam was. “Ons het werklik waar alles saam gedoen . . . gelag, gehuil, gewerk, gespeel.” Sy sê dat daar letterlik nooit een verveelde oomblik saam met Alwyn was nie en dat hy alles altyd met soveel oorgawe gedoen het.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger