Wonderwerk-welpies ontkom verwoestende veldbrand Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 16 October 2021 05:54
Untitled Document

’n Weghol veldbrand by die Kevin Richardson-bewaringstigting in die Dinokeng-natuurreservaat het groot skade aangerig en word bestempel as die ergste nog in die afgelope nege jaar wat die stigting op dié eiendom bedrywig is

Twee personeellede het die aand van 14 September ernstige brandwonde opgedoen, verskeie kampe is deur die brand vernietig, ’n halfgeboude ‘lodge’ het tot op die grond afgebrand en skade is aan heinings en ander toerusting aangerig.


Skade aan geboue
Foto’s: Kevin Richardson Wildlife Sanctuary

Die Kevin Richardson-bewaringstigting se jagluiperdwelpies is inderhaas in hulle nag- en voerkwartiere van sement toegemaak. Die omgewing van Tau-kamp, dié welpies se tuiste, het die brand vrygespring omdat die wind van rigting verander het en die vlamme toe sewe ander kampe verswelg het.

In Julie het ons berig dat die vyf welpies, wat die ‘Miracle Five’ gedoop is, wees gelaat is toe hulle ma in die Dinokeng Wildreservaat noord van Cullinan, in ’n strik gevang en afgeslag is.


Die vlamme het sewe kampe verswelg

In Junie is beeldmateriaal, ‘Meet the Miracle Five’, wat wys hoe dit met dié welpies gaan, vir die eerste keer bekendgemaak. Kevin Richardson, wêreldbekende wildbewaarder en filmmaker, grootliks bekend as die ‘Leeu- fluisteraar’, het dagboek-video’s van die welpies gemaak wat na raming vrygelaat sal kan word as hulle twee jaar oud is.

Volgens die stigting se verklaring het die veldbrand vanaf ’n buurplaas na die reservaat versprei. Daar was ’n sterk wind en die brand het glo in drie verskillende rigtings versprei. Drie mense het brandwonde opgedoen toe die wind van rigting verander het en hulle deur die vlamme na veiligheid moes hardloop.


’n Leeu in ’n kamp met brandskade

Paramedikus operasionele bestuurder by APA EMS, Johann Swart, het berig dat een van die pasiënte se brandwonde so ernstig was dat hy per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem is. ’n Tweede pasiënt is per ambulans na die Montana-hospitaal vervoer en ’n derde pasiënt se wonde is op die toneel behandel.

Die brand is ná vier ure se gespook onder beheer gebring. Die stigting het berig dat die leeus, hiënas en luiperds ook aangekeer kon word en na veiligheid in hulle sement voerkwartiere geneem is.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger