Brawe Cullinanse kok wys koskuns op kassie Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 17 September 2021 07:38
Untitled Document

Al ooit gehoor van maroelaneutpesto? Of van ’n malvaplant-en-tofu-slaai? Of wat daarvan om meelwurms en kriekmeel in die maak van smullekker disse in te span?

Dit is presies wat Cullinan se Lientjie Wessels en Wilhelmina Thirion Garção, wenner van ‘Kokkedoor 2019’, in die televisiereeks, ‘Koskuns met Lientjie en Wilhelmina’, demonstreer.

Dié twee voormalige deelnemers aan die koskompetisiereeks, ‘Kokkedoor’, het mekaar op die program ontmoet, vriendinne geword en spog met hulle eie kosreeks waarin hulle ongewone bestanddele gebruik, geïnspireer deur die plekke wat hulle besoek. Die reeks van 13 programme het in Julie afgeskop en word op Woensdae om 5 nm op KykNet se Via-kanaal uitgesaai.


‘Koskuns met Lientjie en Wilhelmina’
Foto: Via

So het Lientjie en Wilhelmina met maroela as die hoofbestanddeel in ’n woonhuis in die noordelike voorstede van Kaapstad geurige geregte gemaak, in ’n Seepunt-besoek aan Pineapple House Boutique Hotel het hulle met malvaplante geëksperimenteer, by Langkloof Rose met rose gekook, by Johannesdal met wilde salie en selfs met insekte by die PJ Olivier Kunssentrum.

Lientjie vertel dat sy en Wilhelmina by verskeie asemrowende plekke in die Wes-Kaap kreatiewe kos-inspirasie gevind het. “Ons het gewerk met goed wat vreemderig in kos is, dinge wat nostalgies Suid-Afrikaans is, maar op ’n manier wat ’n bietjie van die tradisionele benadering wegbeweeg.”


Lientjie in Queen’s Cottage op Cullinan

Magies
Behalwe meelwurms en kriekmeel, maroelapitte (wat hulle neute noem) en malvas, het sy en Wilhelmina gekook en bak met boegoe, eetbare blomme, heuningbos, wildsvleis, koffie, druiwe, kwepers, truffels wat in moskamers gekweek is, aalwyn en die ouwêreldse grane.

Die bestanddele is telkens gekies en die spyskaart opgestel om by die plek waar hulle verfilm te pas. Lientjie het die kos behartig en Wilhelmina die bakwerk en selfs hulle voorskote, die lappe en tafeldoeke is spesiaal gemaak om alles wat “magies en mooi is” te vier.

Lientjie se eie kuns is op die borde te siene en van die ander keramiekkunstenaars wie se werk gebruik word, strek van Mervyn Gers, Corli Schoeman, Eyelene Clifford en Clayton Sutherland tot Ronel Bakker, Annelie Venter, Hennie Meyer en Anthony Shapiro.

Iets wat die program kenmerk is Lientjie en Wilhelmina se gesprekke oor kos en hulle grootword herinneringe aan disse wat voorgesit is. Lientjie verwys baie na haar ma, Louie Wessels, wat op
3 Augustus 2016 oorlede is, se resepte en die plakboeke wat sy van resepte saamgestel het.


’n Voorbeeld van Lientjie se keramiek-kuns
Foto: Verskaf

Diva
Lientjie is deesdae ook agter die televisiekameras doenig in ‘Boerediva’. Dié reeks het op
2 September begin met aktrise Helene Lombard (wat veral onthou word vir haar rol as Sandra Stutterheim in die sepie, ‘7de Laan’) en gaste wat vir elke episode genooi word. Lientjie doen die konseptualisering, stilering en skryfwerk vir dié program, wat ook glad nie net oor kos gaan nie.

In een van die episodes het mede Cullinan-inwoner, die kabaretsanger en kok, Willie Strauss, padkos en geskenke gemaak. Op dié program is daar ook kreatiewe werkswinkels, ’n braai, goeters word vir ’n skool se fondsinsameling gemaak, ontbyt word gemaak, brood gebak, stories word vertel en blomme word rangskik. Die programme word op Donderdae om 5 nm op DSTV se Via-kanaal uitgesaai.


Queen’s Cottage is in die televisieprogram, ‘’n Ster vir my bed’, opgeknap
Foto: Via

Geure
Lientjie, wat in 2019 ’n besonderse kookboek genaamd ‘Geure’ die lig laat sien het, is ondermeer ’n bekende kunsskilder, dekorkenner, restaurateur en kos-towenaar en in 2011 al het die Bronnie se Vreethans berig dat sy ’n dapper kok is; een wat nie bang is om smaakkombinasies en bestanddele te toets en te trou nie.

Daardie jare het Vreethans by Lientjie en haar oorlede man, Robert Denton, se restaurant op Cullinan, genaamd Albizia, gaan besoek aflê. Voor dit het hulle Li Belle restaurant in Sunnyside bedryf. Robert en Lientjie het op ’n plaas op De Tweedespruit noord van Cullinan gewoon en ná Robert se dood op 3 November 2019, het sy Cullinan toe getrek waar sy elke nou en dan ’n opwip-restaurant by Cullinan se Queen’s Cottage, die geskiedkundige stasiemeestershuis, aanbied.


Lientjie se opwip-restaurant word onder die diep skadu van ’n Indiese vyeboom gehou
Foto: Verskaf

Ster
Dié huis is in die televisiereeks, ‘’n Ster vir my bed’ opgeknap. Die idee vir dié reeks was dat baie oornagplekke graag ’n ekstra ster wil verdien, maar nie weet hoe om te werk te gaan nie. Darryl Erasmus van die Toerisme Graderingsraad van Suid-Afrika het deur Cullinan getoer en ’n reeks gastehuise raad gegee oor hoe om opgraderings te doen om ’n ekstra ster te verdien.

Die opknapwerk vir dié stylprogram is deur die kreatiewe span, wat destyds vir die tydskrif ‘Idees’ gewerk het, verrig. Dit is hulle wat die naam ‘Queen’s Cottage’ aan die ou stasiemeestershuis, wat toe ‘Dina’s Cottage’ was, gegee het. Dié reeks is deur JanHarm van JanHarmsgat se Agterplaas op die dorp, aangebied.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger