Wenners van oeskompetisie aangekondig Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 17 September 2021 07:22
Untitled Document

Die pandemie het Laerskool Witpoort, ’n plaasskool wat reeds 117 jaar bestaan, genoodsaak om met nuwe fondsinsamelingsaksies vorendag te kom. Die Witpoort Oeskompetisie is gebore en bykans ’n jaar ná die kompetisie afgeskop het, is die wenboere by ’n glansgeleentheid op
27 Augustus by Monte de Dios aangekondig.

Mielieboere van die omgewing is verlede jaar genader om elk ’n hektaar mielies aan die skool te skenk as inskrywingsfooi vir die kompetisie. Tien boere, van Bapsfontein tot Bronkhorstspruit, het die uitnodiging aanvaar. Die prysgeld van R50 000 vir ’n eerste plek, R30 000 vir ’n tweede plek, R20 000 vir ’n derde plek, R10 000 vir ’n vierde plek en R5 000 vir ’n vyfde plek, was nie te versmaai nie. 


Van links na regs: Bernice van Staden (Witpoort bemarker); Ockie van Schalkwyk (Dekalb/Bayer); Hennie Griessel (Witpoort skoolhoof); Jan Basson (tweede plek); Poer Cloete (vierde plek); Emje Ferreira (derde plek); Oelof Grabie (eerste plek); Riaan van Wyk (vyfde plek); Jan Gouws (Dekalb/Bayer); en Lourens Swart (Dekalb Bayer)
Foto’s: Laurette van der Vyver

Die wenboer vir 2021 en eerste titelhouer van die Witpoort Oeskompetisie was Oelof Grabie met ’n tonnemaat per hektaar van 14.78 ton. In die tweede plek was Jan Basson met 13.24 ton. Emje Ferreira het weggestap met die derde plek en ’n tonnemaat van 12.2. Poer Cloete was vierde met 11.77 ton en Riaan van Wyk vyfde met 11.49 ton.

Met die prysuitdelingsfunksie het die vyf wenboere vir ’n hoendervleis-oomblik gesorg toe hulle aandui dat hulle boonop hulle prysgeld ook aan die skool skenk.

Daar was ook boere wat skenkings vir die projek gemaak het, maar nie self deelgeneem het nie. Dekalb/Bayer was die hoofborg en vennoot van die kompetisie. Verdere borge was Impac Cropsure, Agri TV, Afgri Gauteng, Reistas en Uvami leerprodukte.

Die volgende oeskompetisie skop met ’n bekendstellingsfunksie in November af. Diegene wat wil deelneem kan ’n e-pos stuur aan Bernice van Staden: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger