Verdagte dood in ontsnappingsvoertuig Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 17 September 2021 07:20
Untitled Document

’n Verdagte is dood in ’n jaagtog ná ’n gewapende roof op 22 Augustus by ’n juwelierswinkel in Woodlands Boulevard.

Die voertuig waarin hulle weggejaag het, het op die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad (R25) gerol. Polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Isaac Mculu, het gesê dat een verdagte op die toneel dood verklaar is en nog een in hegtenis geneem is.

Isaac het gesê dat die polisie daardie Sondag ongeveer 1.30 nm reageer het ná ’n gewapende roof by Woodlands Boulevard aangemeld is. Twee mans het die mense binne in Déonne le Roux juwelierswinkel gyselaar gehou. Die een man was gewapen en hulle het personeel gevra om juwele in ’n sak te sit.

Die vrou wat dié sak oorhandig het, is na hulle voertuig in die parkeerarea gedwing. Ooggetuie Jamie Korf, wat in ’n winkel oorkant die juwelierswinkel werk, het gesien hoe die mans ’n vuurwapen teen die vrou se kop gerig het.

Die sentrum se sekuriteitswagte het hulle gesien en ’n skietgeveg het uitgebreek. Die mans het in twee voertuie gevlug, ’n VW Polo GTi en ’n silwer Ford Escort. Volgens Isaac het twee mans in die GTi geklim en daar was vier in die Escort, wat later verlate in Madibastraat gevind is.

Die polisie het die GTi agterna gesit en op die R25 in die rigting van Tembisa het hulle op die polisie begin skiet. Die polisie het terug geskiet, maar niemand is beseer nie.

Die jaagtog het tot ’n einde gekom toe die GTi gerol het en die bestuurder dood is. Isaac sê dat die polisie op soek is na die vier verdagtes wat in die Escort weggekom het.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger