Verdagte ná konstabel se moord vasgetrek Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 17 September 2021 07:19
Untitled Document

’n Verdagte in die moord op ’n konstabel van Boschkop-polisiestasie is ná bykans drie maande op 18 Augustus aangekeer.

Volgens adjudant-offisier Wynand van der Merwe van die Boschkop-polisiestasie se landelike beveiligingseenheid was die moord op die 29-jarige konstabel Atlegang Nkgoeng ’n eerste in dié stasie se geskiedenis.

“Dit was die eerste keer dat ’n lid aan diens vermoor is en het die klein plattelandse stasie geruk,” sê hy.


Konstabel Nkgoeng se begrafnis

In Junie het ons berig dat konstabel Percy Saimane (34) en konstabel Atlegang Nkgoeng op 24 Mei om ongeveer 1 vm met hulle patrollie ’n verdagte wit Polo naby Solomon Mahlangu-rylaan en die N4 gewaar het.

Hulle het die voertuig afgetrek en twee mans in die voertuig het uitgeklim en op die SAPD-lede begin skiet. Konstabel Saimane is in die been gewond en het skuiling langs die pad gesoek. “Hy moes luister hoe sy kollega, konstabel Nkgoeng, koelbloedig vermoor word,” sê Wynand. Albei konstabels se dienswapens is geroof en die moordenaars het ontvlug.

’n Ruk later het ’n voertuig van SAPD Silverton, wat ook patrollie gedoen het, op die toneel afgekom en die liggaam van die vermoorde konstabel is langs die voertuig gevind. Die gewonde konstabel Saimane is opgespoor en hospitaal toe geneem.


Konstabel Atlegang Nkgoeng (29)
Foto’s: Verskaf

Op Woensdag 18 Augustus  het ’n gesamentlike taakspan, bestaande uit verskillende polisie-eenhede asook sekerheidsmaatskappye en Tracker SA, ’n deurbraak gemaak op die moord en het ’n verdagte op die N4 in hegtenis geneem.

Die verdagte was in besit van ’n onwettige wapen en ammunisie. Die taakspan het verdere inligting deur die nag opgevolg, wat hulle tot by Rustenburg geneem het waar die tweede verdagte in hegtenis geneem is.

Die geroofde dienspistool van die vermoorde polisielid, asook ander wapens en springstof, is in sy besit gevind. Albei verdagtes word van onwettige besit van wapens en ammunisie asook moord en poging tot moord aangekla.

Konstabel Atlegang Nkgoeng is op 29 Mei  met volle militêre eer te ruste gelê, terwyl konstabel Percy Saimane steeds in die hospitaal aangesterk het.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger