Wie sou nou kon raai dat
mense dwarsoor die wêreld
olie bestel wat van die grootsuurpruim
se sade gemaak word?
Dié olie staan bekend as Ximenia
saadolie en word as kosmetiese
middel gebruik wat glo help om
veroudering hok te slaan.
Volgens advertensies laat dié olie
jou jonger lyk omdat dit die samebinding
van die selwande beskerm
en ’n herstellende effek op die vel
het. Dit voed blykbaar die vel en
dien as bevogtiger.
Ons wonder wat die kosmetiese
bedryf sal sê as hulle hoor dat
BioDzl, die internasionale reus in die
bio-diesel industrie, ook belangstel
in kommersiële produksie van die
grootsuurpruim se sade. Hulle het
die grootsuurpruim gelys as een van
hul verkose olie-draende sade.
Dié sade het ’n 65% olie-inhoud en
het ongeveer 92% onversadigde vetsure.
Die saadolie is tradisioneel
deur baie stamme gebruik om aan
die gesig of hare te smeer, en as ’n
kuur vir droë hakskene.
Grootsuurpruim
Foto: Prelude Medicinal
Plants Database
Boesmans
Die Boesmans sê dat as jy dié saadolie
aan jou hare smeer, kleur dit die
hare donker swart en help om dit
meer reguit te maak. Boesmans
rooster die sade, maal dit dan fyn en
smeer die poeier aan wonde. Hulle
gebruik dit ook om pyl-en-boog en
die boogstring soepel te hou; die
olie word aan die boog en die
boogstring gesmeer.
Grootsuurpruim-saadolie is gebruik
in die maak van seep en om dierevelle
mee te brei. Pedi-vrouens
gebruik dit in die voorbereiding van
hul tradisionele leervoorskote. Die
olie is ook in lampe en fakkels
gebruik.
Dit is egter nie net die grootsuurpruim
se sade wat gebruik word nie.
Ryp vrugte het ’n vitamiene C inhoud
van 27%, is hoog in kalium en
bevat ook proteïene. Die vrugte het
’n verfrissende suur smaak en word
gebruik om mampoer, konfyt,
poeding en jellie mee te maak.
Gemaalde vrugte word ook by pap
gevoeg.
Medisyne
’n Aftreksel van die blare word
gebruik om oogkwale te behandel.
’n Aftreksel van die wortels word
gebruik om diarree en disenterie te
behandel, en gemeng met die blare
word dié konkoksie vir enige buikpyn
en bilharzia gebruik.
Verpoeierde blare word geëet teen
koors en ’n afkooksel van die blare
word gebruik om te sluk as ’n wurmverdrywer
en om mee te gorrel vir
mangelontsteking. Baie stamme glo
ook dat ’n afkooksel van die blare
slegte drome sal verdryf.
Verpoeierde wortels word tradisioneel
deur verskeie stamme op sere
geplaas om genesing te versnel; dit
word in sop gebruik, in bier en as ’n
prikkelmiddel. Swanger vroue eet
pap wat gemaak is van ’n afkooksel
van die wortels teen naarheid; dié
wortelafkooksels word ook geneem
teen onvrugbaarheid.
Vrugte
Foto: Geoff Nichols
Boom
Die grootsuurpruim, Ximenia caffra,
is ’n bladwisselende boom met ’n
deurmekaar oop kroon wat ongeveer
ses meter hoog word. Die bas
is donker-grys en grof, terwyl die
jonger takke liggroen of bruin is.
Die klein romerige groen blommetjies
het ’n soet reuk en is aan die
boom van Augustus tot Oktober.
Hulle word gevolg deur 25 mm
lange, ovaalvormige vrugte wat ’n
glansagtige rooi kleur word
met wit spikkels.
Die grootsuurpruim is vernoem
na ’n Spaanse monnik,
Francisco Ximenez, wat
in die 17de eeu in Meksiko
oor dié plante geskryf het.
Die genus Ximenia groei ook
in Amerika. Die spesie naam
caffra verwys na Kaffraria, ’n
ou naam vir ’n deel van die
Oos-Kaap.
Dit is maklik om die grootsuurpruim
van saad af te
groei in ’n 5:1 mengsel van
riviersand en kompos. Die
saad ontkiem na 14-30 dae
en saailinge kan oorgeplant
word as hulle die twee-blaar
stadium bereik.
Dié boom is gedeeltelik parasities en
sal beter groei as hy kan kontak
maak met ander plantwortels. Hy
groei teen ’n gemiddelde spoed, tot
’n halwe meter ’n jaar, en kan middelmatige
ryp hanteer. Hy is droogte-
bestand, en het vol son
nodig. |